Ons het mekaar nodig in die reis van die lewe.
Om die reis meer te geniet, om die lewe meer te waardeer,
en om die lewenspad makliker te loop.
Pelgrims loop self hulle spore,
en tog weet hulle dat hul mede-pelgrims net hier voor hulle is,
of net hier agter hulle, of langs hulle.
Pelgrims op reis sorg ook vir hulself.
Hul beplan, en vul hul voorraad vir die pad aan.
Hulle neem verantwoordelikheid vir hulle eie lewe.
Daarom, wanneer hulle vanaand saam eet, waar hulle oornag,
gee hulle ook hul bydrae uit wat hulle het,
net soveel as wat hulle uit ander se hande geniet.
Pelgrims weet ook om vas te byt, en deur te druk op pad.
Met voete vol blase en seer lywe sal hulle steeds aanhou.
En waar hulle oornag versorg en help hulle mekaar.

Ons moet meer soos pelgrims lewe.
Want ons is immers pelgrims op reis deur hiérdie wêreld en lewe.
Pelgrims op pad na ons eindbestemming by God.
As pelgrims sal ons dan met groter deernis omsien na ons mede-pelgrims,
saam op reis na ons eindbestemming in ewige heerlikheid.

In Handelinge 4:32 en 33 lees ons:
“Al die gelowiges was in hart en siel één.
Niemand het opgetree asof sy besittings sy eie was nie,
hulle het alles gedeel wat hulle gehad het….
en God het sy genade ryklik aan elkeen gegee.”

Die Heilige Gees was pas uitgestort.
Nuwe en ware lewe is in hulle geblaas.
Lewe wat op sy beurt lewe gee,
wat mense se harte en lewenswyse totaal verander.
Selfsug maak plek vir die ander lewensreisigers in jou hart.
Mag ons as pelgrims op die lewensreis,
meer ingestel wees op ons mede-reisgenote in die lewe.
So sal ons almal ligter reis!
So sal die lewe al meer die wáre léwe in oorvloed word,
soos die Here dit vir ons bedoel!

Ernest