Soms laat God toe dat ons wêreldtjies geskud word,
sodat ons ons afhanklikheid van Hom kan besef.
As jy vandag op ‘n plek is waar jou omstandighede jou oorweldig,
en jy nie weet wat om te doen nie, is jy op ‘n goeie plek.
Nou weet jy dat jy net op God kan vertrou,
en dit laat dinge gebeur in jou lewe.
Ons sien dit ook in Job se lewe.
Hy was ‘n man van God, maar hy was baie ingenome met homself.
God het soveel teespoed in sy lewe toegelaat,
dat Job uiteindelik in Job 42:3 moes erken:
“Dit is ek. Ek het oor dinge gepraat waarvan ek niks weet nie.
Hierdie dinge is te groot vir my klein verstandjie om te verstaan.”
Oor Job se lewe lees ons aan die einde:
“Job is as ‘n ou man dood. Hy het ‘n lang en goeie lewe gehad.”
Hy het by die punt gekom van totale vertroue op die Here God alléén!
Ons lewensgehalte hier op aarde en ons lewe hierna,
word deur ons nederigheid bepaal:
Wil ek God ken?
Is ek van God afhanklik?
Wil ek vir God leef?
Weet ek hoe lief God my het?
Weet wat staan in Deut. 33:12:
“En as die Here jou liefhet, is jy altyd veilig.
Hy hou sy hand oor hierdie mense en Hy beskerm hulle,
sodat moeilikheid hulle nie kan onderkry nie.”
Jy is God se geliefde.
Dit is die enigste werklike volgehoue sekuriteit in jou lewe!
Lees weer Romeine 8:31-39 – Niks kan jou van God se liefde skei nie!
Lees ook weer Paulus se gebed vir ons, God se kinders,
in Efesiërs 3:14-21;
Mag Jesus deur die geloof in jou hart woon.
Mag jy in God se liefde gewortel en gegrondves wees.
Oordink dit…….en snap dit!
Jy is God se geliefde!
Ernest