Die wapenrusting van God….
Een van die gedeeltes in die Woord van God
wat ons “amper te goed ken”.
Ons dink ons weet wat dit alles sê en beteken,
en so verloor dit die trefkrag in ons eie lewe.
Die feit is, sonder God se wapenrusting sal jy nie staande kan bly nie!
Lees dit weer noukeurig, en laat toe dat die Heilige Gees jou bewapen,
sodat jy staande kan bly teen die aanslae van die Bose!
Efesiërs 6:11-12 en 14-16:
“Trek die volle wapenrusting aan wat God julle gee,
sodat julle op julle pos kan bly ondanks die listige aanslae van die duiwel.
Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen elke mag en gesag,
teen elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld,
teen elke bose gees in die lug.
Bly dan op julle pos, toegerus met die waarheid as gordel om julle heupe,
die vryspraak deur God as borsharnas,
en die bereidheid om die evangelie van vrede te verkondig,
as skoene aan die voete.
Daarby moet julle altyd geloof as skild in die hand hê,
want daarmee sal julle al die brandpyle van die Bose kan afweer.
Sit verlossing as helm op,
en vat die swaard van die Gees, dit is die Woord van God.”
Paulus was nag en dag in die tronk, geboei aan ‘n soldaat.
Nou gebruik Paulus die wapenrusting van die soldaat,
om ons te leer oor die wapenrusting wat Gód gee!
Die gordel van waarheid – leef en praat die waarheid.
Die borsharnas van vryspraak – jy is vrygemaak in Christus om vir God te leef.
Die skoene van bereidheid – laat jou hele lewe jou getuienis wees.
Die skild van die geloof – geloof beskerm jou teen enige gevare.
Die helm van verlossing – in Jesus is jou verlede vergewe,
en lééf jy vandag, met ‘n betekenisvolle en versekerde toekoms.
Die swaard van die Gees – die Woord van God wat jy lees, oordink, en lééf!
C. S. Lewis het oor die wapenrusting van God gesê:
“There is no neutral ground in the universe; every square inch,
every split second, is claimed by God, and counterclaimed by Satan.”
Leef met die volle wapenrusting van God!
Ernest