Hóé veg ons met die wapenrusting van God?
Só, sê Efesiërs 6:18-19:
“Doen alles deur gebed en smeking.
Laat die Gees julle elke keer in die gebed lei.
Bly in alle omstandighede op julle hoede,
en bid vir almal wat aan God behoort.
Bid ook vir my, dat wanneer ek moet praat,
woorde aan my gegee sal word,
om met vrymoedigheid die geheime plan
van die Goeie Nuus bekend te maak.”

Paulus wys op die belangrikheid van gebed in ons stryd teen die Bose.
Ons kan tot die tande toe gewapen wees,
maar as ons nie weet hoe om die wapens te gebruik nie, help dit nie.
Ons gebruik veral die wapens deur gebed!
“Doen dit alles deur gebed en smeking.”
Gebed is die asemhaling van die gelowige!
Ons kan nie sonder gebed lewe nie.

Robert Farrar Capon verduidelik gebed op ‘n skitterende wyse:
“Gebed is nie om na God toe te gaan nie – Hy is alreeds in jou!
Of om God te soek nie – Hy het jóú alreeds gevind.
Of om jouself vir God oop te maak nie – al probeer jy hoé hard,
jy gaan Hom nie uithou nie.
Of om geestelik te word nie – Hy het alreeds die Gees na jou gestuur,
wat Jesus vir jóú wil wys,
in plaas van jý wat jou geestelike voortreflikhede wil uitstal.
Gebed is dus om te praat met die Here,
wat alrééds met jóú praat!”

Maar ons kan ook nie anders as om te veg deur die Heilige Gees nie,
en in die krag van die Heilige Gees nie!
“Laat die Gees julle elke keer in gebed lei.”
Ons kan nie bid sonder die Heilige Gees nie.
Die Heilige Gees láát ons veg met die volle wapenrusting van God.
Ons veg met die wapenrusting van God,
onder leiding en aanvoering van die Gees,
en ook deur die krag van die Gees!

Bly ook op jou hoede, sê die teks. Wees wakker en nugter.
Hou jou fyn ingestel op die leiding van die Gees.
Bly in álle omstandighede op jou hoede, sê vers 18,
dat die Bose jou nie verras nie!
En moenie net vir jouself veg nie. Veg ook vir mekaar!
Die teks sê: “…bid vir almal wat aan God behoort.”
Paulus vra ook in vers 19…. “bid ook vir my….”
Veg vir almal wat aan God behoort!

Efesiërs 6:18:
“Doen alles deur gebed en smeking.
Laat die Gees julle elke keer in gebed lei”.

Ernest