Op ‘n stadium vra Jesus vir sy dissipels, in Johannes 6:67:
“Wil julle nie ook weggaan nie?”
Ons lees dat baie van Jesus se dissipels omgedraai het huis toe,
toe hulle nie Jesus se boodskap mooi kon begryp nie.
Vandag nog sak kerklidmate uit, en leef al hoe meer soos die wêreld.
Dit is makliker om met die stroom saam te gaan.
Ons moet egter onthou: Net léwende visse swem téén die stroom op!
Die twaalf het besluit dat hulle Jesus verder wil volg.
Want dit is net Hý wat die woorde van die ewige lewe het, vers 68.
Later sou Judas ook sy rug op Jesus draai en Hom verraai.
En die uiteinde daarvan is die dood – ewige dood.
Stroomop of stroomaf?
Dit is die keuse.
As ons Jesus volg kan ons verwag om teenstand te kry van die wêreld.
Dit sal soveel makliker wees om maar net met die stroom saam te gaan.
Maar dan is ons soos dooie visse wat maar net saamdryf.
Dit is die moeite werd om deel van die léwende stroomop span te wees!
Dit is waar Jesus en die lewe is!
Henry Ford het by geleentheid gesê:
“As jy voel dat jy gedurig die wind van voor kry,
moet jy onthou dat dit al manier is vir ‘n vliegtuig om op te styg.”
Vliegtuie styg teen die wind op!
As jy die wind van voor kry, dink dan daaraan:
Dit is ‘n geleentheid om vir die Here “op te styg”, uit te styg!
Leef teen die stroom van die wêreld,
wat jou net soos ‘n dooie vis wil meesleur.
Ernest