Die mense kon nie, of wou nie glo,
dat Jesus wat van Nasaret af kom, die Messias is nie.
Daarom sê hulle in Johannes 7:27:
“Ons weet tog waar hierdie man vandaan kom;
maar wanneer die Christus kom,
sal niemand weet waar Hý vandaan kom nie.”
Elke mens het sy eie idee oor God en die ewigheid,
en wil nie maklik van oortuiging verander nie.
Ongelukkig is die meeste heeltemal verkeerd.
‘n Student het die vraag gevra oor die opregte geloof,
van ander godsdienste as die Christelike geloof.
Sou dit nie ook redding tot gevolg hê, as dit opreg is nie?
Hierop het die wyse leermeester geantwoord:
“Dit is nie genoeg om maar net oortuig en opreg te wees nie.
Jy kan ook opreg verkeerd wees.”
Dit is waarom ons die Bybel nodig het om ons te lei,
en die Heilige Gees wat ons lei in die waarheid.
Die skare het baie oor Jesus gepraat, en elkeen het ook sy eie idee gehad.
Hierdie groep was oortuig dat die Messias se herkoms onbekend sou wees.
Deur hulle onkunde was hulle opreg verkeerd!
Hulle het nie besef wie Jesus werklik is nie.
Hy is God self wat na die aarde toe gekom het.
Ons het ook allerhande idees oor God en Jesus.
Op grond waarvan vorm jy jou idee,
van Wie Jesus is, en hoe jy Hom wil dien?
Soos die Duitse dame wat op die vliegtuig vir die man,
wat langs haar gaan sit het, sê:
“Ek kon nog geen bewyse vind dat God bestaan nie.”
Waarop die man antwoord:
“Nou waar het jy dan na jou bewyse gesoek?”
Ons moet ons idee van wie die Here is, en hoe ons Hom wil dien,
op die basis van die Woord bou, op dit wat die Here self daaroor sê.
Nie op ons eie idees en oortuigings nie.
Leef en dien die Here met ware sekerheid,
nie met onkundige sekerheid nie.
Ernest