Jesus sê in Johannes 7:17:
“As iemand gewillig is om die wil van God te doen,
sal hy weet of hierdie leer van God af kom, en of Ek uit my eie praat.”

Maatskappye het dikwels die probleem dat mense sê:
“Ons het dit nog altyd so gedoen.”
Veral as verskeie maatskappye saamsmelt,
en almal dinge nog steeds op hul eie manier wil doen.
Ons het ‘n ingebore weerstand teen verandering.
Vooroordeel het ook baie daarmee te doen.

Dit raak ook ons geloof.
Ons hoor stories en vorm ons eie oordeel,
en dikwels het dit niks met die waarheid te doen nie.
Mense is dikwels uitgesproke teen Christus en die kerk,
en dan is hul onkunde oor Christus en die kerk skrikwekkend.

In Jerusalem was daar ook agteraf baie oor Jesus gesê en geskinder.
Party was vir Hom en ander teen Hom,
en baie mense het baie te sê gehad oor Hom.
Tog het baie min mense Hom werklik geken.
Dit was baie op hoorsê dat hulle hul oortuigings gevorm het.

Nou daag Jesus hulle, en ons, uit:
Is jy gewillig om God se wil te doen,
al verskil dit van jou oortuigings en vooroordele?
Dit is eers as jy gewillig is om van gedagte en oortuiging te verander,
dat die Here Hom aan jou kan openbaar.
Glo of praat jy op hoorsê oor die Here?
Of ken jy Hom persoonlik en doen sy wil?

Ernest