Jesus sê in Johannes 6:44:
“Niemand kan na My toe kom as die Vader wat my gestuur het,
hom nie na My toe trek nie;
en Ek sal hom op die laaste dag uit die dood laat opstaan.”
Billy Graham het graag gesê:
“Vandag is die eerste dag van die res van jou lewe.”
Hy het dan beklemtoon dat elkeen wat by Jesus uitkom,
‘n nuwe lewe begin. 2 Kor. 5:17:
“Iemand wat aan Christus behoort, is ‘n nuwe mens.
Die oue is verby, die nuwe het gekom.”
Dit het niks met ons eie vermoë te doen nie.
Dit is bloot God se genade wat dit bewerk.
Die Vader werk deur die Heilige Gees; trek ons na Jesus toe.
En wanneer ons dan by Jesus kom,
hoef ons nie te twyfel of Hy ons sal aanvaar nie.
Johannes 6:37:
“Elkeen wat die Vader vir My gee, sal na My toe kom;
en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit verwerp nie.”
Ongelukkig wil die meeste mense nie hierdie nuus aanvaar nie.
Hulle spot: “Môre is die tweede dag van die res van jou lewe.”
Die wat verstaan en kies vir wat Jesus gedoen het, is in die minderheid.
Matteus 22:14: “Baie is immers geroep, maar min is uitverkies.”
Jesus praat selfs van sy klein kuddetjie!
Lukas 12:32:
“Moenie bang wees nie, klein kuddetjie,
want dit was die wil van julle Vader,
om die koninkryk aan julle te gee.”
Wat ‘n merkwaardige vers…
Dit is die wil van die Vader om die koninkryk aan jou te gee.
En dan behoort jy nog tot die minderheid ook.
Dit is nie gewild om ‘n kind van God in die wêreld te wees nie.
Maar die van ons wat deur God se werk en genade,
kies vir wat God doen,
leef verseker en getroos,
en is níé bang nie!
Ernest