“Britse werkgewers kies Suid-Afrikaanse jongmense,
omdat hulle betroubaar is, en nie skrik vir harde werk nie.”
Ons het dit al dikwels van Engeland af gehoor, en is dan trots daarop.
Maar onlangs skryf een van die Britse koerante:
“Britse werkgewers wil nie meer Suid-Afrikaanse jongmense hê nie,
want hulle verval gou in drankmisbruik, dwelms en onsedelikheid”.
Dit was baie teleurstellend om dit te lees.
Hoeveel daarvan waar is, en of dit almal geld is natuurlik ‘n vraag.
Maar wat maak dan nou die verskil?
Dit is níé die land van herkoms nie.
Dit is die jongmense se karakter wat die verskil maak.
Dit is jou karakter wat tel.
Jou identiteit. Wie jý is.
Ons sien dit ook met Daniël en sy vriende wat na Babel ontvoer is.
Daniël en sy vriende was blykbaar die uitsonderings,
tussen die jongmense wat ontvoer is.
Hulle is uitgesoek op grond van hul voorkoms en talente.
Almal het name gedra wat herinner aan die God van Israel.
Daarom het die Babiloniërs aan hulle nuwe name gegee,
wat die gode van Babel moes vereer.
Daniël en sy vriende het hulle voorgeneem dat hulle nie hul karakter,
of hul identiteit sal prysgee nie. Wie hulle ís nie!
Hulle sal nié soos die Babiloniërs word nie.
Hulle het getrou gebly aan hulle lewende God.
Hulle het geweier om die koning se vleis en drank te gebruik.
Hulle het geweier om enige iets te doen te hê met iets wat aan afgode gewy is.
Vandag nog staan ons dikwels voor versoekings.
Dinge wat baie aantreklik aan ons aangebied word.
Baie van hierdie versoekings lyk onskuldig en is aanloklik.
Maar ons moet wakker bly, nugter, en bly wie ons in die Here is.
Ons moet nie ons identiteit prysgee nie.
Dit is ons karakter in die Here wat die verskil maak.
Wie ons in Hom is!
Dit is om hierdie rede dat die Heilige Gees deurgaans aan ons karakter bou.
Al is dit nie altyd “lekker” en “aanloklik” nie, of maklik nie,
uiteindelik is dit ons karakter wat die verskil maak.
Leef met integriteit vir die Here!
Ernest