Daniël 3 vertel van ‘n goue beeld wat koning Nebukadneser opgerig het,
en waarvoor almal moes buig. Vers 6 sê:
“Wie nie buig en die beeld aanbid nie,
sal onmiddelik in ‘n brandende oond gegooi word.”
Daniël se drie vriende, Sadrag, Mesag, en Abednego,
het geweier om dit te doen. Nebukadneser vra dan aan hulle;
“...en watter god sal julle uit my mag kan red?”
In vers 17 antwoord die drie manne:
“Ons het ons God vir Wie ons dien. Hy het die mag om ons te red…”
Die drie word in die oond gegooi en die manne wat hulle moet ingooi,
brand reeds by die ingooi dood van die verskriklike hitte.
Maar Daniël se drie vriende val lewend in die oond in.
Die koning spring verskrik op en vra in vers 24:
“Het ons dan nie drie manne vasgebind in die oond gegooi nie?”
“In Daniël 3:25 staan daar dan :
“Maar ek sien dan víér manne wat vry en ongedeerd rondbeweeg in die vuur,
en die vierde lyk soos ‘n hemelwese!”
God het nie beloof dat ons nie krisisse sal beleef nie,
maar Hy het belowe dat Hy in elke krisis by ons sal wees.
Die Here belowe dat Hy by sy kinders sal wees in tye van groot gevaar.
Lees veral Jesaja 43:1-3.
Daniël se drie vriende is nie úít die vuur gered nie, maar ín die vuur gered!
Hulle was gewillig om vir die Here te sterf, die ware lewende God wat hulle aanbid.
Al was hulle ook oortuig dat Hy hulle kon red as Hy wou, is hul bereid om te sterf vir Hom!
Hulle het geweet dit is nie hulle besluit nie, maar God se besluit.
Koning Nebukadneser spring verskrik op wanneer hy ‘n vierde man by hulle sien!
Jy kan ook enige dag op enige plek in ‘n groot krisis beland.
Die Here het belowe dat Hy jou nooit sal verlaat of in die steek sal laat nie.
Hebreërs 13:5:
“…God self het gesê: Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie.”
God wil jou help in elke toets, beproewing en versoeking.
Wees verseker daarvan, soos Daniël en sy drie vriende!
Ernest