Psalm 106:6 sê :
“Ons het gesondig….ons het verkeerd gedoen….ons is skuldig.”
Ook die profeet Jesaja sê in 59:2:
“Dit is julle oortredinge wat skeiding gebring het tussen julle en julle God,
dit is julle sondes wat maak dat Hy Hom nie aan julle steur nie,
en nie na julle wil luister nie.”

Ons sal maklik luister na die wil van die Here uit sy Woord,
sonder om tot die besef van ons sonde te kom.
Ons sal ook maklik ons sonde bely,
sonder om enige spesifieke sonde by die naam te noem.
Ons sal dit ook doen,
sonder dat enige sonde ons op ons knieë dwing voor die Here.
Sondebelydenis word maklik ‘n terloopse deel van ons gebede,
byna soos baie van ons tafelgebede.
Wanneer laas het jy regtig met die Here geworstel,
oor sonde in jou lewe….?
Sondebelydenis kan nie bloot ‘n goeie gewoonte wees,
sonder dat enige iets in ons lewe verander nie.
God werk deur ware sondebelydenis met mense,
en hulle lewe verander ingrypend.

Hierdie Psalm 106 is geskryf terwyl die volk in ballingskap was.
Hulle het swaar gekry as gevolg van hulle ongehoorsaamheid.
Dit laat hulle soek na die aangesig van God.
Net Hy kan aan hul omstandighede ‘n verskil maak.
Maar God wil eers ‘n verskil aan húlle maak,
voor Hy dit aan hul omstandighede wil maak.

Dit is ook met ons so.
Ons pleit by die Here om ‘n verskil aan ons omstandighede te maak,
maar Hy wil eers die verskil aan óns maak!
Daarom moet Hy dikwels die omstandighede gebruik ,
juis daarvoor, om die verskil aan óns te maak!
Hy wil ons by sondebelydenis bring,
sodat ons verhouding met Hom, juis daarna,
tot volle potensiaal kan groei!
God haat sonde nog net so veel as ooit.
Maar Hy het ons so lief dat Hy Jesus daarvoor gegee het,
om ons van sonde vry te maak.
Moenie die sonde in jou lewe ligtelik opneem,
en net terloops met God daaroor praat nie…
Bely dit opreg, en glo dan in die vryspraak in Jesus,
en gaan leef jou volle potensiaal saam met God!

Ernest