Hoe kan mense sien of ons Christene is?
Meer nog, hoe kan mense sien dat ons werklik ‘n verhouding met die Here het,
en nie net in naam Christene is nie?
Die Here Jesus gee self die antwoord in Johannes 13:35:
“As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is.”
Iemand sê die ander dag op die plaas:
“As jy wil weet of ‘n boer reeds tot bekering gekom het,
moet jy dit nie vir hóm vra nie. Vra sy werksmense.”
Dit geld ook familielede, vriende en kollegas rondom ons.
Al die kringe waarin ons beweeg.
Die mense die naaste aan jou,
weet die beste wat jou verhouding met die Here is.
Jesus in jou lewe, maak ‘n dramatiese verskil in jou lewe.
Veral aan die manier wat jy ander mense behandel,
en ook hoe jy die behandel wat naby aan jou is.
Almal sien die liefde in jou, of die gebrek aan liefde in jou.
Jesus was gewillig om sy lewe vir sy dissipels te gee.
Daarom verwag Hy dit ook van hulle, om hul lewe vir mekaar te gee.
In vers 34 sê Hy:
“Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê.”
Dit is natuurlik nie altyd maklik nie.
Mense kan dikwels sê dat hulle hul medemens liefhet,
maar hulle kan nie hul familie, bure en kollegas verdra nie!
Ons kan nie kies, soos ons ons vriende kies, wie ons wil liefhê nie.
Trek ons liefde vir mekaar, ook ander mense na die Here toe?
Kan mens deur jou liefde dit sien en ervaar,
dat jy ‘n opregte kind van die Here is?
Ernest