God, wat van ons vra om mekaar lief te hê,
maak dit juis vir ons absoluut moontlik om mekaar lief te hê!
As die Here dit nie gedoen het nie,
sou ons nooit uit eie krag ander mense kon liefhê nie.
Soveel mense wat so moeilik sou wees om lief te hê….

Maar nou kom woon en werk God ín ons!
Deur Hom wat in ons woon, is dit nou moontlik om lief te hê,
soos die Here Jesus ons liefhet! - Joh. 13:34.
God is groter en kragtiger as alles, en kom woon in ons!
Soos die seuntjie wat gesê het;
“As dit só is, sal Hy dan nie by ons uitsteek nie?!”
Soos ons, het hy ook gewonder hoe God,
wat alomteenwoordig is, in ons kan woon?
Die pa het dit so aan hom probeer verduidelik:
“Dit is soos wanneer jy ‘n leë blikkie in die see gooi.
Die grote see is in die blikkie, en die kleine blikkie is in die see.”
God is in ons, en ons is in Hom.
Dit is ‘n merkwaardige waarheid,
wat ons in staat stel om vir God te leef.
En om lief te hê soos die Here ons liefhet.

In Johannes 14 is Jesus met ‘n diep gesprek besig met sy dissipels.
Hy sal die Vader vra om die Heilige Gees na ons toe te stuur.
Die Heilige Gees sal dan altyd by ons en in ons wees!
Die Griekse woord, “parakletos”, wat Jesus hier gebruik,
kan op baie maniere vertaal word en is baie ryk aan betekenis.
Dit is trooster, helper, voorspraak, advokaat, regter,
getuie, bemoediger, alles in een! Die Heilige Gees stel ons in staat!
En by dit alles kan die Drie- Enige God nie verdeel word nie.
Daarom sê Jesus in Joh.14:23 die Vader en die Seun kom óók in ons bly:
“As iemand My liefhet, sal hy my woorde ter harte neem;
en my Vader sal hom liefhê,
en Ons sal na hom toe kom en by hom woon.”

God, wat in ons woon, rus ons toe, en help ons,
om lief te hê soos Hy ons liefhet.
Waar jy ookal leef, en met wie jy ookal te doen kry,
God is daar, in jou, en wil déúr jou liefde laat vloei oor alle mense!

Ernest