“My trou en liefde sal by hom wees: deur My sal hy oorwin.”
Psalm 89:25 skryf hier oor wat God van sy dienaar Dawid sê.
Hierdie Psalm herinner ons waar Dawid sy vastigheid gekry het.
Reeds sedert sy kinderjare as skaapwagter.
Ook in sy jongmensjare as soldaat en aanvoerder.
En ook later in sy volwasse jare as koning van die volk.

Dawid het geweet dat dit God was wat hom geroep het.
En dat dit ook God is wat hom van dag tot dag dra in hierdie roeping.
Die suksesse in sy lewe was nie sy eie toedoen nie.
Hy het dit geweet in sy lewende verhouding met God.

Ook in hierdie week wat voorlê gaan ons nie altyd die wind van agter hê nie.
Dikwels moet ons teen die wind in. Stroomop beur.
Daar wag uitdagings en teleurstellings.
Tog kan ons altyd van een ding seker wees:
God verander nie!

Al stel ons God ook teleur.
Hy hou ons steeds vas en wil ons gebruik.
Hy bly voorsien en weerhou sy genade nie van ons nie.
Dink net aan jou eie geskiedenis saam met God.
Hoe Hy jou geroep het om sy kind te word.
Hoe hy jou deur die jare gedra het.
Hoe jy Hom steeds kan vertrou!

Ernest