In 2 Konings 6:1-7 lees ons van ‘n byl wat dryf!
‘n Groep profete van ‘n profeteskool waarby Elisa is,
wil bome langs die Jordaanrivier gaan kap,
om die vergadersaal groter te maak.
Ten spyte van die agteruitgang in Israel se godsdiens,
het die profeteskole gebloei.
Elisa gaan saam met hulle,
en terwyl hulle bome kap val een man se byl in die water en sink.
In vers 6 roep die man uit:
“Ag tog, Meneer, en dit was boonop ‘n geleende byl.”
Toe hierdie man sy geleende byl verloor,
moes Elisa ingryp deur ‘n wonderwerk wat die byl laat dryf!
Vir die Here is dit nie moeilik om yster te laat dryf nie!

Maar hierdie gedeelte laat ons daaraan dink dat alles wat ons het geleen is.
Ons besittings word net aan ons geleen – Job 1:21 en Lukas 12:17-20.
Ons moet dit vir die Eienaar van alles bestuur tot Sy eer.
Ook ons kinders word aan ons geleen .
Ons moet hulle vir die Here grootmaak – Lukas 18:16 en Deut. 6:6-7.
Ook ons talente en gawes is nie daar vir ons nie,
maar moet in diens van die Here gebruik word – 1 Kor. 12:7.
Ook ons tyd word net aan ons geleen – Efes. 5:16 en Kol. 4:9.
Ons lewe is kort en moet voluit vir die Here geleef word.
Jou liggaam is ook net aan jou geleen – 1 Kor. 6:19-20.

Ons is rentmeesters vir die Here is alles wat ons het.
Ons bly in die eerste plek aan die Here verantwoordelik daarvoor.
Leef in elke verhouding tot eer van die Here,
en gebruik alles wat jy het tot eer van die Here.

Ernest