Daar is baie dinge rondom ons wat ons nie kan sien nie.
Radiogolwe, X-strale, ultravioletstrale, infrarooi.
Ook dinge soos liefde, getrouheid, gedagtes.
En ook dinge wat ons nie met die blote oog kan sien nie,
maar met hulp, byvoorbeeld kieme onder ‘n mikroskoop.
Dan praat ons nog nie eers van die geestelike wêreld om ons nie.
Engele, en demone, wat normaalweg onsigbaar is,
maar hulle soms ook laat sien.

Hier in 2 Konings 6 sien ons, behalwe vir die episode met die byl,
nog ‘n wonderwerk waarby Elisa betrokke is.
Elisa kry die gawe om die onsigbare te sien.
Daarom is hy nie so ontsteld soos sy bediende
toe die vyandige leër aankom nie.
Hy verduidelik aan sy dienskneg dat die soldate
aan hulle kant meer is as die vyand!
En dan bid Elisa die gebed van vers 17:
“Elisa het gebid: “Here, maak tog sy oë oop dat hy kan sien.”

Die uiteinde van die gebeure is dat hy die vyandige soldate,
sonder weerstand, tot binne-in Samaria gelei het.
Hy beveel toe dat die vyand kos en water moet kry,
en dan teruggestuur word!
Dit was ‘n buitengewone oorwinning! ‘n Wonderwerk!

Paulus herinner ons ook aan die vyand wat ons nie kan sien nie.
Ons is in ‘n geestelike oorlog betrokke.
Ons vyand is egter nie die mense met wie ons te doen sal kry nie,
maar die onsigbare bose geeste in die lug!
Die onsigbare magte van die duisternis waarvan Ef. 6:12 praat.
Ons moet dit besef en die Here vra om ons
die wysheid en insig te gee om dit te “sien”!
Ons moet die Here bid dat Hy ons oë oopmaak,
om die misleiding van die Bose te “sien”!
Dan sal ons elke keer as oorwinnaars uit die stryd tree.

Ernest