Rich Buhler skryf die volgende oor pyn:
“Ons leer deur pyn. Pyn laat ons verander.
Pyn stuur ons dokter toe vir hulp.
Pyn laat ons leer wat goed is.
Pyn dwing ons om ‘n skadelike verhouding te beëindig.
Pyn maak dat ons na God soek.”
Pyn beskerm ook jou liggaam in terme van beserings.
Ons ken ook die uitdrukking wat ons dikwels in gimnasiums sien:
“No pain, no gain.” Ons groei deur pyn.
Philip Yancey het navorsing oor melaatsheid gedoen,
en daarna ‘n boek geskryf oor die voordele van pyn!
Melaatses kry baie skade omdat hulle nie pyn voel nie!
Pyn is ‘n goeie gawe van God.
Ons hou egter nie van pyn nie, want ons is ingestel op gerief en gemak.
Moet ook nie heeltyd aan iemand wat dag en nag in pyn lewe,
vertel dat pyn goed kan wees nie. Dit is ook verstaanbaar…
Psalm 102 is deur iemand geskryf wat nie die voordeel van pyn beleef nie.
Sy pyn is nie net liggaamlik nie. Hy voel ook eensaam en verlate.
Die skrywer gebruik treffende sterk beelde om sy pyn te verwoord:
“My liggaam brand soos vuur, ek is verskroei en uitgedroog soos gras,
ek het alle eetlus verloor.” – Psalm 102:4-5. Lees die Psalm.
Die skrywer besef dat God nog steeds in beheer is,
al voel dit asof ander mense met hom spot.
Maar dit voel ook vir hom asof God, wat in beheer is, teen hom is!
Het jy ook al só gevoel?
Jy kán, soos hierdie Psalmskrywer, sê hoe jy voel!
Dit is die wonderlike van die Psalms,
dat ons daarin sien hoe opreg en eerlik die mens
met God kan worstel en redeneer, sonder die vrees van veroordeling!
Jy is moontlik vandag in een of ander vorm van pyn.
Liggaamlik, geestelik, emosioneel.
Hoe oorwin jy dit? Wie staan jou by?
Voel jy ook alleen soos hierdie digter?
Gaan vrymoedig daarmee na God toe!
God het ‘n doel met alles wat met ons gebeur.
Romeine 8:28 laat ons besef dat God nie verleë staan met ons nie.
God ken pyn! Hy skep dit! Hy ly dit ook,
wanneer Hy sy Seun aan die kruis moet prysgee!
En Christus ken pyn beter as enige mens, na liggaam en gees!
Hy dra liggaamlik, en geestelik, en emosioneel,
die volle oordeel en toorn van God aan die kruis, ten opsigte van ons sonde!
Gee jou pyn vir God,
en laat toe dat Hy sy Goddelike doel daarmee bereik.
Ernest