Ons kla dikwels oor die vreemdelinge wat oor ons landsgrense kom.
Ons kla oor die misdaad wat as gevolg daarvan toeneem.
Ons kla oor die werkgeleenthede wat daarmee minder word.
Ons kla oor nog baie meer ten opsigte van vreemdelinge.
Ons besef ook dat Europa ‘n enorme krisis het met vlugtelinge.
Maar alle mense wat vlugtelinge en vreemdelinge is,
is verseker nie misdadigers nie, of sleg nie…
Ons moet veel eerder vir hierdie mense bid,
en met meer begrip oor hulle praat, en met hulle praat,
as om hulle eenvoudig as “sleg” af te skryf.
Vele van hulle wat oor ons eie grense kom,
is inderdaad oortuigde en belydende Christene,
wat toegewyd aan die Here leef,
en ‘n beter heenkome vir hulself en hul geliefdes soek.
Dikwels juis as gevolg van hul Christenskap.
Regverdige kinders van die Here, wat in opregtheid vir Hom leef.

Psalm 105:15 sê hierdie woorde wat ons baie mooi moet oordink:
“Moenie aan my gesalfdes raak nie,
moenie my profete kwaad aandoen nie.”
Dit was juis sulke mense van die Here,
wat ook as vreemdelinge elders moes woon.
Die Psalmskrywer vertel hier hoe die Here
in die lewe van die aartsvaders gewerk het.
Hulle het geen vastigheid en sekerheid gehad nie,
veral nie ten opsigte van hul “eie land” nie.
Hulle is juis ook oral verstoot.
Hulle het oral waar hulle gegaan het baie vyande gehad.
Abraham was alleen.
Isak het twee seuns gehad en een was ‘n vlugteling in ‘n ander land.
Van Jakob se seuns het in die vreemde gewoon.
Gen. 34:13 sê hulle het van een land na die ander geswerf.
In ons eie land is daar baie mense wat ook so leef en voel.
Hulle is vreemdelinge hier, en nie welkom nie.
En baie Suid Afrikaners het landuit beweeg,
en beleef dat hulle vreemdelinge dáár is, en nie welkom nie.
Baie van hulle is ons eie kinders en kleinkinders.
Is dit so eenvoudig dat hulle maar met hul keuse moet saamleef?
Nee. Baie van hulle het geen keuse gehad nie.
Moes selfs vir hulle geloof vlug.

En vir almal is God daar!
Soos die aartsvaders ontdek hulle, en ons,
dat God uiteindelik genoeg is.
Dit is sý wêreld, sý skepping, sý skepsels,
en baie van hulle sý eie kinders!
Hierdie wêreld is nie joune nie….maar God sin.
Daarom skryf die psalmskrywer wat hy skryf,
as hy oor die aartsvaders en profete skryf,
wat dikwels soos vreemdelinge moes gaan leef:
“Moenie aan my gesalfdes raak nie,
moenie my profete kwaad aandoen nie.”
En daarom het Jesus ook ‘n “vreemdeling”,
soos die Samaritaanse vrou, met liefde aangesien.
God is vir almal daar!

Ernest