Richard Rohr skryf in sy boek,
“Adam’s Return: The Five Promises of Male Initiation”,
dat ons moet sterf aan onsself sodat ons kan begin leef voor God!
Ons moet vry raak van ons lewenslange verslawing aan onsself.
Die lewe gaan regtig nie oor mý nie…
Tóg weet ons wat op reis is agter Jesus aan,
dat ons name in die hemel opgeskryf is!
Maar op aarde het status en prestasie ‘n vervaldatum,
en sukses net ‘n beperkte rakleeftyd.
Dit is natuurlik nie lekker om te hoor dat ekself nie belangrik is nie.
Elkeen van ons dink heimlik dat ons belangrik is, en staan op ons regte.
Die wêreld draai maar om onsself. Ek is in die middelpunt.
Ons sal dit nie sê of maklik erken nie, maar “ek” is maar in die sentrum.
My prestasies, my werk, my man, my vrou,
my kinders, my besittings, my wat ookal.
Ek sê vroom ek is nie belangrik nie, maar my lewe draai om my.
Ons moet dit diep in ons harte ingraveer: die lewe gaan nié oor mý nie.
Ek is nie belangrik nie. Ja, ek hét baie groot waarde voor God.
Ek is sy kind! Maar op my eie is ek niks. Stof.
Ek het geen reg om myself op te blaas of groter te praat nie.
Paulus het dit ook ontdek en skryf in Romeine 12:3:
“…Moenie van jouself meer dink as wat jy behoort te dink nie.”
Ons is maar swak mensies wat ‘n rukkie hier is en weer verdwyn.
Die Here het my nie eers regtig nodig nie.
Ja, Hy het my innig lief.
Maar sy liefde sê baie meer oor Homself, as oor mý.
Hy het my juis lief ten spyte van…
Dit is in sy liefde en genade, dat Hy my optel en met eer bekroon.
Ek kan maar net geduldig op Hom wag.
Ek moet vry raak van my verslawing aan myself….
Dán kan ek voor God begin lééf!
Ernest