Hoe kleiner ek word in myself, hoe groter word God in my geloofslewe.
Natuurlik hang God se grootheid nie van mý af nie!
Maar ons het die vreemde vermoë om Hom gedurig klein te bedink.
Ons dink nie net klein oor God nie, ons beleef Hom ook klein.
Ons besef nie hoe arrogant ons inderwaarheid nog is nie!
Ons sukkel nog om regtig voor God nederig te wees.
Dit belemmer ons geestelike groei geweldig.
Soos iemand sê: ons het die plafon geslaan,
as gevolg van ons grootheidswaan!
Eers as ons ons eie arrogansie en grootheidswaan besef,
dit opreg voor die Here bely, en dit laat staan,
sal ons groei tot groter hoogtes in die Here.
Dan gaan dit nie meer vir my om erkenning nie, of selfhandhawing nie,
of aandag en lofbetuigings nie, of wat ookal vir mý belangrik is nie.
Dit help veel ons gee ons “alles” vir die Here,
maar ons groot ego’s staan nog steeds in die pad,
in die pad van wat die Here wil doen, ook in en deur ons.
Eers as dit gladnie meer oor myself gaan nie,
en ek gestroop staan van myself, en my ego,
dan eers kan die Here deur my doen wat Hý wil doen!
Dan gaan dit selfs ook nie meer oor wat ék vir die Here wil doen nie.
Die Here vra nie dat ons moet ophou om onsself te wees nie.
Hy vra dat ons moet ophou om ons opgeblase, arrogante,
selfgerigte, selfaangedrewe sélf te wees.
Kom ons buig laag voor die Here God,
en verwag niks meer van Hom nie as dat Hy ons klein sal hou,
sodat Hý in ons lewe gróót sal wees!
Ernest