Waar leer ons nederigheid?
Die eintlike leerskool vir ons geloof is nie die lewe nie,
maar ons verhouding met die Here Jesus Christus!
Ons leer ook nederigheid primêr by Hom.
Galasiërs 6:22-23 sê ook nederigheid is deel van die vrug van die Gees!
Ons het dit nie uit onsself nie,
en leer dit ook nie primêr uit ons omstandighede nie.
Ons leer nederigheid by die Here,
deur aanhoudend by sý voete kleiner te word.
Hý is ons Leermeester, deur die Heilige Gees,
wat dag vir dag met ons besig bly.

Maar die Here vra van ons,
en begelei ons ook,
om uit die lewe te leer.
Ons leer dikwels nederigheid en volharding,
juis deur lyding en terugslae in die lewe.
Dit is inderdaad ‘n toetstyd, en leertyd,
wanneer winde teen ons waai.
Maar die Here is net soveel met ons besig
wanneer goeie winde oor ons waai.
Wanneer die son volsterkte op ons skyn,
vra die Here net soveel nederigheid en volharding en groei,
as wanneer die wolke oor ons hang.
Dit leer die Woord ons, nie ons omstandighede nie.

Dit gaan inderdaad om meer as net die lewe wat ‘n leermeester is.
Ons verhouding met die Here is ons eerste leerskool.
Ons getrouheid aan Hom is die eerste oefenplek vir ware nederigheid.
Hoe meer ons vir die Here leef, en by Hom leef,
hoe meer groei ons in eie onbelangrikheid.
Ons behoefte om stiller, eerliker, getrouer, nederiger, en heiliger te leef,
is die resultaat van die Here se liefde vir ons, en ons liefde vir Hom!
Hý leer ons. In en deur Hom leef, beweeg en groei ons!
“Dieselfde gesindheid moet in julle wees,
wat daar ook in Christus Jesus was…”
Filippense 2:5.

Ernest