Aansteeklike gelowiges leef so dat hulle jou aansteek met entoesiasme.
Hulle is onselfsugtig energieke mense, wat totaal uitverkoop is aan die Here.
Hulle is met hulle hele lewe gerig op die dien en die ondersteuning van ander mense.
Maak nie saak waar hulle in die ry staan nie, hulle dien voltyds. Dit is hul lewe.
Hulle bemagtig mense, rig hulle op, en wys met hulle eie lewe die ware koers aan.
Hulle hardloop of skarrel nie die heeltyd rond,
om passiewe kerklikes se behoeftes aan te spreek nie.
Hulle is nie besig met reaktiewe bedieninge om ménse tevrede te hou nie.
Hulle het geleer om hulleself te vergeet, en God se wil te doen.
Hulle leef verhoudings-gedrewe, en nie gerig op gerief of gemak nie.
Hulle volg Jesus deurlopend, al is dit dieper die storm in.
Hulle is lewende voorbeelde van wat hulle sê, en bely, en glo.
Hoe wonderlik sal dit nie wees nie,
as meer kerklidmate na aansteeklike Christenskap toe groei nie….?
Hoe lyk jóú lewe as lidmaat van die gemeente van die Here?
In Handelinge 2:46 lees ons iets van gemeente wees:
“Hulle het almal elke dag getrou by die tempel bymekaargekom,
van huis tot huis die gemeenskaplike maaltyd gehou,
hulle kos met blydskap en in alle eenvoud geëet.”
Vers 44 sê hulle was eensgesind en het alles met mekaar gedeel.
Kerkwees sal in ons tyd óók anders lyk,
maar ons lees hier iets van die hart van kerkwees.
Dat ons enigste droom sal wees om God se wil te leef.
Dat ons nie gerig sal wees op erkenning deur ander nie.
Ons leef nie dáárvoor nie.
Ons kan juis met onbekendheid en onbelangrikheid saamleef.
Ons weet ‘n eerste plek in die koninkryk van God,
is wanneer ons aan iemand anders ‘n plek vóór ons gee.
Ons weet om te dien is soms om stil te bly en uit die pad te staan.
Ons weet ons hoef nie elke slag reg te wees nie.
Dit gaan oor die Here en die groei van ander.
So leef ons aansteeklik, en trek mense na die Here toe.
Sonder baie woorde praat ons lewe luidkeels oor die Here.
Kom ons wees deel van híérdie groepie gelowiges…..
Ernest