“Amen” is ‘n treffende fliek wat in die Tweede Wêreldoorlog afspeel.
Dit vertel die aangrypende verhaal van ‘n Protestantse offisier,
in die Duitse weermag, wat saam met ‘n Italiaanse priester
in opstand kom teen die gruwels van die Auschwitz doodskamp.
Hulle probeer alles in hulle vermoë,
om dit onder die aandag van die godsdienstiges, soos die pous,
en die politici van die wêreld te bring.
Hierdie godsdienstiges, soos die pous,
en invloedryke politici uit Amerik kyk egter anderpad!
Dit laat die Italiaanse priester besluit om self ‘n Jood te word,
ter wille van sy Christelike oortuigings!
Met sy geel Dawidster en al,
word ook hý in Auschwitz ter dood veroordeel!
Later sterf ook die Duitse Protestantse soldaat op ‘n tragiese wyse,
omdat niemand hom wou glo nie,
dat hy teen hierdie wrede regime in opstand gekom het nie.

Hierdie fliek is ‘n moet omdat dit jou laat besef dat,
as jy nie ‘n visie vir die koninkryk het waarvoor jy bereid is om te sterf nie,
dit ook nie die moeite werd is om hiervoor te leef nie.
Nog meer, as jy nie bereid is om jou lewe ter wille van ander te leef nie,
of op te offer nie, of af te lê nie,
dan is jou geloof net ‘n gepraat sonder inhoud.

Net soos Christus is ons hier om te dien.
Ware geloof is om vir die Here en ander te leef, en selfs te sterf.
En as jy bereid is om daarvoor te sterf,
hoekom lééf jy dan nie daarvoor nie?!
Die heel grootste offer is ons lewens self!...sê Romeine 12:1:
“…Gee julleself aan God as lewende en heilige offers
wat vir Hom aanneemlik is…”

Ernest