Ons koppe, ons brein, soek veiligheid en voorspelbaarheid.
Geloof is egter om dikwels, heel dikwels,
lynreg teen daardie program in ons kop in te gaan.
Diegene wat navorsing op die brein doen,
vertel dat ons brein daarop ingestel is om met bekende modelle te werk.
Ons kop se hoofdoel is om ons lewe so voorspelbaar moontlik te hou.
Ons stoor in ons onderbewussyn modelle,
modelle van hoe ons in die verlede gevoel, gedink,
en gereageer het, in enige denkbare situasie.
Wanneer ‘n soortgelyke situasie opduik,
herhaal die brein die model wat daarmee werk.
So is ons, sonder dat ons dit eens besef,
dikwels lewenslank onderwerp aan hierdie modelle in ons kop.
‘n Voorspelbare leefstyl waarop telkens teruggeval word,
vir beheer en sekuriteit, natuurlik.
Ons wil leef in veiligheid en voorspelbaarheid.
Geloof is egter om te besef “ek” is uiteindelik nie in beheer nie!
Geloof is om dikwels lynreg teen daardie program in ons kop in te gaan.
Die Here, wat in beheer is, vra van ons geloof.
Hy vra nie van ons om in beheer te wees nie. Hy is in beheer!
Geloof werk met onsekerheid, waagmoed, en onveiligheid.
Wanneer ons kop ons na rustige waters wil neem,
waar ons in ons gemaksone is,
neem geloof ons dikwels na dáár waar die Here met ons besig wil wees.
Dieper die storm in. Dáár waar Hy ons wil gebruik.
Ons kop wil ons in die hawe in neem. Die Here wil ons op die oopsee hê.
Daar waar dit nie gaan om mý veiligheid en gerief nie,
maar my medemens se noodkreet,
en soeke na die hulp van die Here,
deur mý.
Geloofsgroei is om waagmoed te hê.
Efesiërs 4:23 sê hieroor:
“Julle gees en gedagtes moet nuut word.”
Om nie maar net binne ‘n lewe te leef wat haarfyn beplan is nie.
Om te besef “ek” is nié in beheer nie.
Goddank, nie ek nie, maar die Here!
Ernest