Dat “ek” nie in beheer is nie,
beteken nie alles is buite beheer nie.
Of dat daar geen beheer is nie.
Dit is nie ‘n traak-my-nie-agtige lewe nie.
Dit is nie “laat God’s water maar oor God’s akker loop” nie.
Natuurlik mag ons maar beplan aan ons lewe.
Natuurlik mag ons vir die toekoms voorberei.
Maar ons bou nie ons hoop en verwagtings eksklusief hierop nie.

Geloof is nie die teenoorgestelde van verantwoordelikheid nie.
Geloof is om dikwels te beplan met niks in jou hand nie.
Selfs nie eers ‘n begroting nie.
Ons het by wyse van spreke net vyf broodjies en twee visse.
Maar, ons ken Iemand persoonlik aan Wie alles behoort!
En Hy gee daarmee aan duisende kos.
Daarom beplan ons in sy Naam!
Waagmoedig, dapper, en gelowig.

Ons waag dit om saam met Jesus op die water te loop.
En alles wat slaag, is net aan sy goedheid te danke.
Ons goeie organisasie is nie die sleutel nie.
Selfs nie eers ons “groot” geloof nie.
Dit is die Here wat werk,
en ons in sy genade deel daarvan maak.
Ons moet selfs dikwels leer om uit sy pad te staan,
met dit wat óns vir die Here wil doen…
Ons kan nie die Here se werk uit sy hande neem nie.
Hy doen alles deur ons.
Deur Hom leef, beweeg en ís ons!

“Lewe as nuwe mense wat as die beeld van God geskep is:
Lewe volkome volgens die wil van God…” Efesiërs 4:24.

Ernest