Dit is taai..!
Om aan verhoudings te werk is taai!
Want daar is makliker en minder gekompliseerde verhoudings,
en daar is moeilike veeleisende verhoudings.
Maar ons moet aan alle verhoudings werk!
Dit is die wil van die Here dat verhoudings moet werk!
Anders is my geloof eenvoudig ‘n klug.
Dit is waarvoor die Here die duurste prys aan die kruis betaal het!
Vir ons verhouding met God, en ons verhoudings met mekaar.
“Jy moet jou naaste liefhê soos jouself” Matteus 22:39.
Ons weet dit. Verhoudings maak saak.
Of, weet en besef ons régtig hoé belangrik dit vir God is?
Ons moet erken: Seker almal van ons,
is nie in ons verhoudings waar God ons wil hê nie.
Dink maar net….
Ons wil punte wen in verskille.
Te veel kere wil ék reg wees.
Mense moet soos ek dink en praat en doen.
Verhoudings vra dat ek soms my mond moet hou.
Dat ek dikwels my gedagtes in my kop moet stoor,
eerder as dat dit oor my tong rol.
Dat ek my woorde moet tel, en my tong moet vasbyt,
ter wille van wat Jesus vra in verhoudings.
Ek draai nie my ander wang nie,
en loop nie ‘n tweede myl saam nie.
God se koninkryk is verhouding-gedrewe.
Die opbou en uitbou van sy ryk gebeur verhoudingsmatig.
Daarom moet ek Matteus 22:39 baasraak,
in my kop, hart, hande, voete, hele lewe!
Ek moet oor en oor hoor wat Gód oor verhoudings sê.
Dat dit soms moeilik is. Dikwels pynvol is. Swaar kan wees.
Dikwels bloei ons in verhoudings.
Verhoudings…egte, taai, opregte, deursigtige verhoudings,
is nie altyd maklik nie.
Maar die Here het deur dit alles gegaan, en deur oneindig meer,
om in verhouding met jou te leef.
En om jou in staat te stel om ook so in verhouding met ander te kan leef.
Daarom dat Hy sê:
“Jy moet jou naaste liefhê soos jouself”.
Ernest