Hoekom is ons bang? Hoekom vrees ons?
Dikwels is dit nie wát ons vrees wat ons vryheid die meeste bedreig nie,
maar dát ons vrees. Dink mooi daaroor na… dit geld die meeste vrese.
Kan jy dink hoe vry jy sou wees as dit nie saak gemaak het “wat die mense sê” nie.
En ook hoe vry ons sou wees as ons nie die potensiële skimme in die toekoms sou vrees nie.
Amper niks inhibeer ons ook meer as die vrees vir mislukking nie.
Die oomblik as jy besef die monster van vrees lê in jouself,
en nie daar buite nie, verloor vrees sy mag oor jou!
In die tyd van die Nuwe Testament was dit vir die Joodse geestelikes duidelik:
Die “groot probleem” is die Romeinse Ryk, die vuil Samaritane, en die bose tollenaars.
Al die klassieke sondaars, in húlle oë….
Dit gaan sleg met hulle, omdat hulle te verdraagsaam geraak het,
met al die sondaars rondom hulle.
Maar volgens Jesus is dit nie die probleem nie!
Hulle probleem is die blindheid vir hulleself.
Jesus het verbasend min kritiek uitgespreek teenoor die Romeinse ryk.
Hy was ook deurlopend betrokke by die “klassieke sondaars”.
Die probleem van vrees lê nie by die mense rondom ons nie, maar in onsself.
Volgens Jesus is die probleem veel nader aan die huis, as daar buite.
Hy wys vir hulle die balk in die eie oog.
Jesus het ‘n groter probleem gehad met die godsdienstiges as met die “sondaars”.
Waarom loop ons met allerhande vrese in ons hart ten opsigte van ander mense?
Eerlike introspeksie is wat die Here van ons vra.
Dat ons weer sal ontdek wat 1 Johannes 4:18 sê:
“Ware liefde het nie plek vir vrees nie; volwasse liefde dryf die vrees uit…
wie aanhou vrees het nog nie die volwasse liefde bemeester nie.”
Ernest