Sommige mense maak jou klaar…
Hulle tap jou energie met hul negatiwiteit en hoe veeleisend hulle is.
Hulle kan ook jou bloeddruk geweldig opstoot.
Dikwels is dit openbare figure. Ander kere is dit kollegas, of selfs familie.
Ons kan dit nie wegpraat nie, of wegdink nie; daar is mense wat ons irriteer.
Hulle gewoontes, gedrag, taal, en leefwyse staan ons nie aan nie en hinder ons.
Hoe moet ons dit hanteer?
Want dit is hier waar die duiwel so maklik vatkans op ons kry.

Wees versigtig om te veel op hulle te fokus.
Dit word ons probleem en ons verloor perspektief.
Dit maak dat ons heeltyd oor hulle praat,
en hulle selfs tussen ander mense begin afkraak.
So raak onsself ongesond in kop en hart.
Kry perspektief oor ander mense en jou gevoelens daaroor.

Vra jouself af waarop en op Wie jy regtig moet fokus.
Dit sal jou kop en jou hart suiwer en gesond hou.
Rig jou gedagtes op die dinge daarbo waar Christus is!
Kolossense 3:1-3, 12 help ons hiermee. Leef daarmee!
“Aangesien julle saam met Christus uit die dood opgewek is,
moet julle strewe na die dinge daarbo waar Christus is,
waar Hy aan die regterhand van God sit.
Rig julle gedagtes op die dinge wat daarbo is,
nie op die dinge wat op die aarde is nie,
want julle het gesterwe,
en julle lewe is saam met Christus verborge in God.
Julle is die uitverkore volk van God wat Hy baie lief het.
Daarom moet julle meelewend, goedgesind, nederig,
sagmoedig en verdraagsaam wees.”

Wanneer ons aan die hand van Kolossense 3 ons lewens rig,
dan bly ons kop-gesond en hart-gesond.
Dan bepaal ander mense nie meer die gehalte van jou eie lewe nie.
Dan bepaal jou verhouding met God jou omgee vir mense,
en is jy bestand teen mense wat die vermoë het om toksies op ander in te werk.
Dan kan jy inderdaad leef soos die teks sê:
Meelewend, goedgesind, nederig, sagmoedig en verdraagsaam.
Uit jou eie kan jy nie.
Maar met jou gedagtes gerig op “die dinge wat daarbo is”, kán jy!

Ernest