Jesus se eie familie het gedink Hy het van sy kop af geraak!
Die Fariseërs en Skrifgeleerdes het nog erger gedink.
Hulle was van mening dat Hy besete was.
Op ‘n ander plek noem hulle Hom ‘n vraat en ‘n wynsuiper.
Volgens die mense rondom Hom, het Jesus vreemde dinge gedoen,
vreemde dinge gesê, en saam met vreemde mense uitgehang.
Veral die godsdienstiges het gedink daar is iets fout met Hom.

Sê nou almal in die wêreld is doof, en skielik begin iemand hóór!
Of almal is blind en skielik kan iemand sien!
Wanneer hierdie persone hul waarnemings en belewenisse met die ander deel,
sal húlle wat nie kan hoor of sien nie, dink dié ouens is mal…!
Hulle praat van voëltjies wat sing,
en hoe mooi die sonsondergang is wat hulle sién.

Só het die mense oor Jesus gedink,
wat God se wil kom onderskei het, en dit geleef het.
Hulle wat doof en blind is vir God se wil, dink Hý het sy kop verloor.
Om soos Jesus eenvoudig te lewe,
onvoorwaardelik lief te hê,
en lig te reis in hierdie lewe, met min besittings,
is eenvoudig wêreldvreemd!

In hierdie wêreld maak ons bymekaar! Soveel jy kan!
Meer as wat jy ooit nodig sal hê.
Jy reis nie lig in hierdie wêreld soos Jesus nie.
Ons het ook nie, soos Jesus, onvoorwaardelik lief nie.
Nee, ons beantwoord vyandigheid met haat, selfs geweld.
Ons draai verseker nie die ander wang of loop die tweede myl saam nie.
Ons leef selfgesentreed. Dit is nie net aanvaarbaar nie,
maar selfs bewonderenswaardig. Selfgerig en onafhanklik.
Daarom moet die ander nie iets van my verwag,
wat hard werk vir wat ek het nie.
Die groot druk in hierdie wêreld is om beter en beter te lyk vir ander,
eerder as om beter en beter te word!

Dit is vandag nog so in ons wêreld.
As iemand die dinge doen waarvoor Jesus gestaan het,
sal mense vandag nog steeds dink dit is baie vreemd!
Ironies genoeg, veral godsdienstige mense!
“Abnormale” gedrag is nodig in hierdie wêreld,
waar “normale” mense is wie hulle vandag is….

Leef soos Jesus!

Ernest