Filippi was ‘n kleinerige stadjie in die noordelike deel van Masedonië,
wat vandag Griekeland is, en waar talle Romeinse soldate afgetree het!
Dit is daarom opvallend dat Paulus in Filippense nooit na die Ou Testament verwys nie –
dit sou vir die Romeinse gelowiges onbekend wees.
Die kerk in Filippi was die eerste “Europese” kerk, gestig in 49-52 n.C.
En nou die belangrike:
Daar was geen onderskeid tussen Griek, Jood en Romein nie.
Ook nie tussen ryk en arm, of slaaf en vry persoon, in hierdie gemeente nie.
Almal was soos een gelukkige familie!
Ons sien dit in hóé hulle aan die begin van die brief gegroet word.
Die brief aan die Filippense begin treffend:
“Paulus en Timoteus, twee mense wat Christus Jesus dien,
met alles wat hulle het, het hierdie brief geskryf.
Die brief is bedoel vir al die mense in Filippi wat God s’n is,
omdat hulle Christus Jesus ken…..”
En dan groet Paulus en Timoteus die gemeente,
met hierdie treffende groet in Fil. 1:2:
“Ons groet julle met die wens dat God ons Vader,
en die Here Jesus Christus vir julle baie goed sal wees;
mag julle die vrede beleef wat net God kan gee.”
Die gemeente word gegroet in terme van God se genade.
Die “wens dat God ons Vader, en die Here Jesus Christus
vir julle baie goed sal wees.”
“Charis”, die Griekse woord, beteken genade, vreugde, mooiheid.
Griekse briewe is met hierdie groet begin.
“Eirene”, is weer die Griekse woord vir;
vrede op elke gebied en in elke verhouding.
Dit is hoe die Jode mekaar gegroet het.
“Mag julle die vrede beleef wat net God kan gee”.
Mag ons ook al hoe meer, soos die Filippense,
in harmonie met mekaar saamleef,
ten spyte van ons groot verskeidenheid.
Mag ons ook regtig vir mekaar God se genade bedoel,
en vrede met mekaar uitleef op elke gebied, en in elke verhouding.
Streef daarna, soos vers 1 begin, met “alles wat jy het” !
Ernest