Paulus skryf verder oor die eensgesindheid en samewerking by die Filippense.
In hoofstuk 1 vers 5 skryf hy:
“Julle staan mos soos een man saam agter God se goeie boodskap,
met nog dieselfde vuur en oortuiging as aan die begin.”
En dan sê Paulus hierdie belangrike ding in vers 6:
“Van een ding is ek seker:
dit is God wat al hierdie goeie dinge met julle laat gebeur.
Hy sal dit vir julle bly doen tot op die dag wanneer Christus Jesus weer kom.
Hy sal julle nooit in die steek laat nie, daarvan kan julle seker wees.”

Franz Schubert kon nooit sy agste simfonie voltooi nie.
Hy het reeds op 31 jarige leeftyd gesterf.
Niemand kon dit ook vir hom voltooi nie,
want hulle het nie geweet hóé hy dit wou laat eindig nie.
Tog is ons bly dat hy dit begin en gedeeltelik geskryf het,
want vandag is dit steeds een van sy gewildste simfonië.
Dit staan ook bekend as die “Onvoltooide Simfonie”.

Dit sal, volgens bogenoemde teks,
nie waar wees van ons lewe as kinders van die Here nie.
Filippense 1:6 sê dat God met ons besig is,
dat Hy al die goeie dinge met ons laat gebeur,
en dat Hy dit vir ons sal blý doen,
tot op die dag wanneer Christus Jesus weer kom!
God sal verseker klaarmaak waarmee Hy in ons lewe begin het!
Dit laat ons elke dag met verwagting tegemoetgaan!
Want Paulus sê: Daarvan kan ons seker wees!

Ernest