Lees wéér Filippense 1:6:
“Ek is veral ook daarvan oortuig dat God,
wat die goeie werk in julle begin het,
dit end-uit sal voer en dit sal voleindig,
op die dag wanneer Christus Jesus kom.”
God gee eenvoudig nie op met ons nie. Nooit nie!
Hy sal dit wat Hy in elkeen van ons begin het, voltooi!
Die hele Bybel is vol daarvan:
Selfs toe Dawid baie drooggemaak het, onder andere met Batseba,
het God aangehou met hom.
God bring hom by berou en verootmoediging,
en begin weer van voor af met hom.
Soveel so dat God aan die einde van Dawid se lewe,
volgens Handelinge 13:22 kon sê:
“Ek het in Dawid seun van Isai ‘n man na my hart gevind.”
Moses, die hakkelaar, het nie eers in homself geglo nie.
Maar God hou aan met hom, ten spyte van ál sy verskonings,
en maak hom die leier van sy volk.
God het Moses selfs sy vriend genoem.
Abraham, Isak en Jakob, is nog voorbeelde.
Abrham praat soms doelbewus nie die waarheid nie,
soos teenoor die koning ten opsigte van sy vrou Sara.
Isak is op die oog af ‘n swakkeling.
Jakob gedra hom soos ‘n eerstehandse skurk.
Tog hou God met elkeen van hulle aan,
en maak klaar wat Hy in hulle begin het.
God is besig met ons. Hy gee nie op met ons nie.
Hy sal ons nie onvoltooid laat ten opsigte van sy doel met ons nie.
Hou daaraan vas ten opsigte van al jou tekortkominge en foute.
En bly soek na die aangesig van die Here!
Hy gee nie op met jou nie!
Ernest