Paulus beklemtoon twee keer in Fil. 1:6 en 10,
dat God aanhou met sy goeie werk in ons,
“tot op die dag wanneer Christus Jesus weer kom.”
Nou sê Paulus verder ‘n baie belangrike ding in vers 10:
Hy sê dat, juis omdat God aanhou met sy goeie werk in ons,
juis dáárom “sal julle altyd die beste keuses kán maak”.
Ons kán die beste keuses maak! Ons kan aktief vir God leef.
Vraag is óf ons dit doen?

Tot en met die wederkoms is ons nie passiewe kinders van God nie,
maar juis aktiewe medewerkers van God,
óók ten opsigte van ons eie lewe!
Ons kan keuses maak….
en ons kan inderdaad die beste keuses maak.

Dat Paulus twee keer hier na die wederkoms verwys,
lê klem daarop dat ons juis aktief, saam met die Here,
na die wederkoms toe moet lewe!
Ons sit nie terug en wag op die wederkoms nie.
Ons leef juis aktief op pad daarheen, want, sê vers 10 verder:
“Dit sal sorg dat wanneer Jesus weer kom,
niemand ‘n vinger na julle sal kan wys,
en julle van swakhede beskuldig nie.
In alles wat julle doen,
sal mense kan sien dat julle verhouding met God reg is”.

Leef aktief vir die Here, na die wederkoms toe!
Martin Luther het iets daarvan bedoel toe hy gesê het:
“As ek weet Jesus kom môre terug, dan plant ek vandag nog ‘n appelboom.”

Ernest