Paulus sê in Filippense 1:9-10 dat hy vir hulle die volgende bid:
“Ook bid ek dat julle liefde al hoe meer sal toeneem,
in begrip en fyn aanvoeling,
sodat julle die dinge sal kan onderskei waarop dit werklik aankom.”
Paulus beklemtoon weer die wederkoms van die Here:
“Dan sal julle op die dag wanneer Christus kom,
onberispelik en sonder blaam wees.”
Verder in vers 11:
“En deur Jesus Christus sal julle geheel en al in die
regte verhouding met God wees, tot sy lof en eer.”
Weereens is ons deel van dit wat God doen,
om gereed te wees vir Jesus se wederkoms.
Ons liefde moet al hoe meer toeneem.
Dit is aktief. Dit groei in ons.
En ons leef dit uit! Want God is liefde.
Ons is in ‘n lewende verhouding met Hom.
As ons mekaar liefhet, en daarin bly groei,
sal almal weet Hy is liefde,
en Hy het in liefde sy Seun gestuur om ons vry te maak,
juis om lief te hê!
Waarin groei ons liefde?
In begrip en fyn aanvoeling.
Begrip kry ons deur God se Woord te bestudeer,
en meer en meer te verstaan hoe liefde werk.
Die Bybel gee ons perspektief op God se liefde.
Fyn aanvoeling kry ons deur die Gees wat ons lei,
om nie selfgerig te wees nie, maar sensitief vir ander.
Fyn aanvoeling is om te besef ons is almal die beeld van God,
en daarom begin ons almal sien as skepsels van God,
vir wie Hy só lief is, dat Hy sy Seun vir elkeen opgeoffer het!
Moeder Teresa se lewensleuse was:
“Laat die Jesus in mý, die Jesus in jóú liefhê en dien.”
Mag elkeen van ons regtig groei in ons liefde,
wat sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling!
Ernest