Filippense 1:10-11:
“Julle sal op die dag wanneer Christus kom
onberispelik en sonder blaam wees,
en deur Jesus Christus sal julle geheel en al
in die regte verhouding met God wees, tot sy lof en eer.”
Die Boodskap vertaal vers 11 só:
“Jesus Christus sal julle help om reg te lewe.
So sal mense aan julle kan sien hoe wonderlik God is.
Dan sal hulle met opgewondenheid oor sy grootheid praat.”

Toscanni het altyd as dirigent,
voor ‘n uitvoering van ‘n Beethoven simfonie, vir die orkes gesê:
“Jy is niks. Ek is niks. Beethoven is alles.”

So is dit in ons verhouding met die Here.
Ons is niks. Hy is alles!
Hy het ons so lief en is so goed vir ons,
dat ons dit in ons dankbaarheid en liefde nie anders wil of kan nie!
En Hy help ons om so te lewe!
Ons koop nie vandag ‘n viool en speel môre Beethoven nie.
Jesus help ons om daarin te groei om reg te lewe – begin vers 11.

Pablo Picasso het ‘n jong Gertrude Stein geskilder.
Uiteindelik het Picasso die skildery onthul.
Dit het Gertrude uitgebeeld as oud, wys, en sterk.
Sy was egter op daardie stadium jonk, onseker, en broos.
So het almal haar geken.
Die mense het verbaas gereageer op Picasso se skildery.
“Dit lyk dan nie soos Gertrude nie!”
Hy het daarop gereageer:
“Dit sal eendag.”

God is besig om ons te vorm,
sodat ons meer en meer sal lyk soos sý beeld van ons,
soos Hy wil hê ons moet lyk en lewe!
Ons teks sê:
“So sal mense aan ons kan sien hoe wonderlik God is.
Dan sal hulle met opgewondenheid oor sy grootheid praat.”

Ernest