Moet nooit dink dit is eentonig om te hoor God het jou lief nie.
Moet ook nie dink jy het dit nou al gehoor en verstaan dit,
of besef hóé groot God se liefde vir jou is nie.
Ons het nie naastenby ‘n idee hoe groot God se liefde vir ons is nie.
Dit is seker die een ding wat ons die meeste hoor ten opsigte van God:
“God het jou lief”.
Bly kinderlik opreg en opgewonde daaroor dat God jou liefhet.
Hy doen dit weer en weer en weer! Elke dag sonder ophou!
Ons moet soos kinders met lewenslus uitroep: “Doen dit wéér Here!”
Klein kindertjies kan herhaaldelik uitroep dat hul ouers iets wéér moet doen.
En die grootmense doen dit maar weer en weer,
totdat hulle naderhand stokflou is.
Grootmense is as’t ware nie sterk genoeg daarvoor nie,
om soos klein kindertjies oor “eentonigheid” te juig nie.
Maar God is sterk genoeg. Ons kan oor en oor smag na wat Hy doen.
Hy word nooit moeg daarvoor nie.
Dalk sê God elke oggend vir die son: “Doen dit wéér.”
En elke aand vir die maan: “Doen dit wéér.”
Dalk lyk elke madeliefie blommetjie dieselfde,
omdat God nooit moeg raak om hulle te maak nie!
So is dit ook met sy liefde vir ons:
Hy hou eenvoudig nooit op om ons lief te hê nie!
Dit raak nooit vir Hom eentonig nie.
Hy los nie een verhouding, omdat dit vir Hom eentonig raak,
en gaan soek in die plek daarvan ‘n ander verhouding nie.
Hy hou aan werk aan elke liefdesverhouding, tot die dood toe!
Daarom kan ons bly bid:
“Doen dit asseblief wéér, Here.”
Glo in God se liefde vir jou, onvoorwaardelik, vir altyd.
Of jy dink jy is dit waardig, of nie. Of jy getrou is, of nie.
Hy het jou lief wanneer jou intellek sê dit kan nie wees nie.
Wanneer jou hart dit eenvoudig nie wil aanvaar nie.
Wanneer jou hele wese sy liefde wil verwerp.
Deur dit alles het Hy jou steeds lief sonder voorbehoud.
Hy het jou op hierdie oomblik lief.
Net soos jy is, en nie soos jy “behoort te wees” nie.
God het self in Hebreërs 13:5 gesê:
“Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie.”
Ernest