Ons sien in sportspanne dat hulle praat van hoë-impak spelers.
As gelowiges kom ons nie eers laat op in die wedstryd nie.
Ons wag nie vir ander spelers om “sag” te maak,
en dan kom maak ons die “impak” nie.
Ons doen dit van die begin af,
vandat ons deel word van die geloofsgemeenskap,
die span van die Here,
hulle wat die Here dien en volg met hulle hele lewe!

Filippense 2:1-4 sê iets van hoë-impak gelowiges:
“Aangesien julle die troos in Christus ondervind het,
die aansporing deur die liefde,
die gemeenskap deur die Gees,
die innige meegevoel en meelewing –
maak dan nou my blydskap volkome deur eensgesind te wees:
een in liefde, een van hart, een in strewe.
Moet niks uit selfsug of eersug doen nie,
maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself.
Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie,
maar ook aan dié van ander.”

Let op:
Die span word gebou op die troos in Christus, die bevryding in Hom.
Die span word gemotiveer en aangespoor deur die liefde.
Die krag wat die span saambind in gemeenskap met mekaar, is die Gees!
Die span speel vir mekaar! – met innige meegevoel en meelewing!

Let verder op wat sê die teks:
Die span deel dieselfde visie en doel.
Een in liefde, een van hart, een in strewe!
Christenskap is verseker nie ‘n solo-sport nie.
Ons saamwees en saamstaan bring ander mense na Jesus!
Die span respekteer ook mekaar,
en besef die span is groter as die indiwidu!
Daarom doen jy nie iets uit selfsug of eersug nie.
Jy ag in nederigheid die ander spanlid hoër as jyself.
Jy dink nie net aan jou eie belange nie,
maar aan die van die span,
en bo alles aan die belang van Hom vir Wie ons in die wedstryd is,
en alles gee, vir Wie ons van die begin af die impak maak,
die Here Jesus self!

Die dirigent-komponis, Leonard Bernstein, het gesê:
“Die moeilikste instrument om te speel in die orkes is tweede viool.
Want almal verkies die prestige van eerste viool.
Maar sonder tweede viool is daar geen harmonie in die orkes nie!”
Laar die kollig op Jesus val!
En gee applous en erken die beeld van God in ander mense!
So is jy ‘n hoë-impak gelowige!

Ernest