Iemand het gesê:
Die belangrikste Persoon wat jóú moet vergewe is die Here.
En naas Hom, is dit jyself!
Dikwels sukkel mense om die vergifnis van die Here te aanvaar.
En heel dikwels is dit omdat hulle nie hulself kan vergewe nie.
Almal begaan egter foute en moet hulself vergewe.
Jou skuldgevoelens gaan jou verseker nie vrymaak van jou foute of verlede nie.
Die Here maak jou vry daarvan en jy moet ook jouself vergewe, soos Hy jou vergewe.
Wanneer die Here sê ons moet ander vergewe,
soos Hy ons vergewe, dan geld dit ook ten opsigte van jouself!
Net genade en onvoorwaardelike liefde van Bo,
maak vergifnis na alle kante moontlik.
Hoe kan die Here jou vergewe, maar jy vergewe nie jouself nie…?
Is dit omdat jy nie sy vergifnis grondig in jou hart aanvaar en glo nie?
Kies vandag om die Here se vergifnis jou eie te maak en jouself te vergewe.

Miga sê wanneer ons ons skuldlas met ‘n opregte hart aan die Here gee,
word ons sondes in die diepsee gegooi en Hy dink nooit weer daaraan nie.
Die belangrikste is dat die Here jou vergewe!
Al beskinder en veroordeel mense jou,
jy weet jy het berou, het bely, en is vergewe deur Hom wat saakmaak.
Hou op tob oor gedane sake.
Die Here sal nooit sy rug op jou draai met sondebelydenis nie. Nooit!
Begin saam met die Here skryf aan die res van jou lewe!

Maar vergewe ook ander, soos die Here jou vergewe.
Thomas Edison het jare gewerk aan die eerste gloeilamp.
Toe hy dit reggekry het, het dit sy span 24 uur geneem,
om die eerste gloeilamp aanmekaar te sit. ‘n Groot lamp.
Hy gee dit toe vir ‘n jong seun,
om dit die trap op te dra, om dit te konnekteer.
Die seun het versigtig die groot lamp opgedra.
By die laaste trappie struikel hy en dit breek in duisend stukkies!
Die span werk toe nog 24 uur en sit ‘n tweede lamp aanmekaar.
En wie kry by Edison die opdrag om dit teen die trap op te dra?
Dieselfde jong seun!
Dit is vergifnis!

Die Here maak jou vry!
Gooi die kettings af en leef vry!
Maak ook ander vry soos die Here jou vrymaak!
Vergewe hulle!
Dit maak ook jóú vry!

Ernest