Dit wat ons “het” help ons om ons geloof aan die wêreld te wys.
Behalwe die materiële dinge, het ons ook oë, ore, ‘n neus, mond, ledemate.
Alles dinge wat die Here ons gee,
en waarmee ons ons geloof aan die wêreld kan wys.
Maar ons kan nie net daarop staatmaak nie.
Dit wat ons “het” of nié het nie, moet nie ons geloof bepaal nie.
Sê nou jy verloor een van hierdie dinge, of al jou besittings….wie is jy dán?
Laat dit jou dan skielik minder glo?....of selfs jou geloof verloor?
Dit is wat sal gebeur as jy nét glo danksy dit wat jy het.

Glo jy regtig dat jou geloof ‘n verskil in die wêreld maak?
Vertrou jy God werklik sodat jy wonderwerke sal sien en ervaar?
Of is jou geloof ‘n alledaagse storie wat geen verskil maak nie?
Moenie die rimpel effek van jou geloof onderskat nie.
Jou geloof is baie meer werd as dit wat jy dink jy “het”.
Wie sou Nick Vujicic gewees het,
as hy op sy arms en bene staatgemaak het in sy geloof?
Hy is sonder ledemate gebore!
Wie sou Stevie Wonder gewees het,
as hy op sy oë staatgemaak het vir sy geloof?
Hy was lewenslank blind!
Wie sou Nyle DiMarco, “America’s Next Top Model, gewees het,
as hy net op sy mond en ore staatgemaak het vir sy geloof?
Nyle DiMarco is doofstom.
Wie sou Yolanda Gombard gewees het,
as sy op haar ledemate staatgemaak het vir haar geloof?
Sy is na ‘n ongeluk ‘n parapleeg,
en tog ‘n wonderlike suksesvolle moeder van 5 seuns.

Baie keer staan dit wat ons “het” in die pad van ons geloof.
Of dit wat ons dink ons nié het nie.
Ware geloof laat jou besef dat jy sonder baie dinge kan klaarkom.
Geloof laat jou besef hoe onbelangrik die dinge is waarteen jy vaskyk.
Ware geloof is net van die Here God afhanklik!
Daarom kan ware geloof glo ten spyte van dit wat jy het,
of nie het nie, of verloor het.

Glo met “die oog gevestig op Jesus,
die Begin en Voleinder van die geloof.” – Heb. 12:2.

Ernest