Die aarde is deur die Here aan ons gegee,
om te bewerk, en te bewoon, en te geniet, en te beskerm!
Maar om dit te kan doen,
vra ‘n lewe van minder “rykdom”, en méér van God.
Die hele wêreld is God s’n!
Hy het dit geskep en dit behoort aan Hom, Gen. 1:1.
God word deur sy skepping verheerlik, Psalm 19:1.
God openbaar Homself ook daardeur, Rom. 1:20.
God onderhou sy skepping, Kol. 1:17.
En God gaan dit weer opeis en nuut maak, Openbaring 21:1-2.
En tog het Hy ook die skepping aan ons toevertrou,
om dit vir Hom “te bewerk en op te pas” – Gen.2:15.
Ons is sy verteenwoordigers op aarde! Genesis 1:26.

Ongelukkig maak ons die reuse fout om dit verkeerd te verstaan,
en nou plunder, stroop, en vermors ons die aarde en hulpbronne.
God het bedoel dat ons “heerskappy” op die aarde,
as sy verteenwoordigers, sý karakter moet weerspieël,
en nie ons menslike selfbeheptheid nie.
Ons moet ware rentmeesters van die aarde wees soos Gód dit wil hê.
In die wêreld waarin ons lewe is die druk ondraaglik hoog,
om ons rentmeesterskap van die aarde,
en ons “materieële” honger te balanseer.
Hoe gaan ons dit regkry om hierin die verteenwoordigers van God te wees?

Die oplossing gaan hand aan hand met die ou Christelike beginsel van eenvoud.
Om ‘n getroue rentmeester vir die Here te wees,
moet ons weer die Bybelse beginsel snap, en omhels, en gaan uitleef,
die beginsel van: Oorvloed in eenvoud!
God vra regtig jou persoonlike bydrae hierin.
Dit gaan oor jou integriteit voor Hom as sý verteenwoordiger!
Vereenvoudig jou hele persoonlike lewe,
sodat jy kan fokus op dit wat regtig saakmaak.

Adele Ahlberg skryf in “Spiritual Disciplines Handbook”:
“Eenvoud kweek die wonderlike kuns om dinge te laat gaan.
Dit breek ons oordrewe gehegtheid aan dinge.
Eenvoud bring vryheid, en daarmee saam vrygewigheid.”
Dit laat ons nie meer kyk wat ons kan “uitkry” nie,
maar wat ons kan “insit” in die aarde en in God se mense.

Kom ons gaan leef die beginsel wat God vir ons bedoel, sý wil:
Oorvloed in eenvoud!
Eenvoud bring vryheid.
Eenvoud bring ook vrygewigheid.

Ernest