In ons verbruikerskultuur wat so behep is met “nuwer”, “beter”, en “meer”,
het ons die lewensbeginsel van eenvoud dringend nodig.
Richard Foster skryf:
“Christelike eenvoud bevry ons van hierdie moderne manie.
Dit bring nugterheid na ons kompulsiewe buitensporigheid.
Dit gee ons waansinnige gees vrede.”

Dit het regtig te doen met persoonlike keuses en die uitleef daarvan.
Om eenvoudiger te leef gaan oor ‘n innerlike fokus,
wat uitloop op uiterlike keuses.
Om eenvoudiger te leef, en hierdie keuses persoonlik uit te leef,
beteken om ons allereers vir die koninkryk van God te beywer – Mat. 6:33.
Dit geld “op die grond” keuses, dáár waar ons lééf,
soos bestedingspatrone, selfs ten opsigte van kos,
besittings, tydsbestuur, gewoontes. Ons hele manier van leef…

Hierdie fokus help ons om tevrede te wees met minder,
eerder as om gedurig na méér te smag.
Dit laat ons ook ons tyd en energie rig op dit wat regtig saakmaak,
eerder as om ons kalender vol te prop,
en ons lewe in sinnelose en onbelangrike aktiwiteite te verdeel.
So kry ons ook meer tyd om in verhouding met God te lééf,
vir ons medemens om te gee, en ‘n rentmeester vir die Here te wees.
Ons keuses speel ‘n ontsaglike belangrike rol in ons lewe.
Daarom kan ons keuses in lyn met die wil van die Here tot groot seën wees.

Vra met jou keuses:
Beywer ek my allereers hiermee vir die koninkryk van God?
So word elke keuse deel van die oplossing, eerder as deel van die probleem.
Só ontdek ons deur die keuses wat ons maak,
dat gehoorsame rentmeesterskap,
en ‘n vereenvoudigde lewe wat God eer, hand aan hand loop.
Leef met minder. Leef stadiger.
Leef meer in stilte by God se Teenwoordigheid.

Ervaar die ware rykdom waarvoor jy geskep en herskep is:
Die Godgegewe oorvloedige lewe wat Jesus gee:
Johannes 10:10:
“Ek het gekom sodat julle die léwe kan hê, en dít in oorvloed.”

Ernest