Hoe lyk jy as die Here se kind vir ander mense?
Dit begin by Jesus, sy heiligheid, en sy verhouding met sy Vader.
Jesus leef die Vader uit in dade van liefde en heiligheid.

Ons kan nie net met woorde preek nie.
As jy net praat van God se liefde en genade,
maar dit nie self uitleef teenoor ander nie,
“sien” hulle nie die Here nie, en “hoor” Hom ook nie.
Ons wonderlike dade red ons verseker nie,
maar dis dade van dankbaarheid,
wat eenvoudig moet heenwys na die Here!
Ons dade wys wel of ons gered is en nuwe mense is!

Ons verteenwoordig God tussen mense.
Sien hulle Hom raak as ons by hulle is?
Daarom moet ons liefde en heiligheid uitleef.
1 Petrus 1:16 sê oor God se liefde dat dit ons dring na heiligheid.
Dit inspireer jou om sagmoedig en met liefde heilig te leef.

Om heilig te leef beteken eenvoudig om aan God toegewy te leef.
Moenie onderskat hoe belangrik jou heiligheid is nie.
Jesus het uit gehoorsaamheid, respek en heiligheid,
vir sy Vader kruis toe gegaan.
Heiligheid maak jou gehoorsaam aan God tot in die dood toe.

Jou dade kan jou nie red nie, maar dit wys wel dat jy gered is.
Dit kan jou medemens na die Here toe trek.
Dit is hoe die Here deur jou wil werk.
Hulle kyk na jou lewe en sien God is ‘n werklikheid.
God doen dit alles deur jou wat met liefde heilig lewe.
Dit bly ‘n groeiproses, soos Paulus dikwels beklemtoon het.
Leef dus uit die Woord van God.
Groei in liefde én heiligheid.

Ernest