Wat is geluk?
Die woordeboek sê dit is ‘n toestand van tevredenheid.
Maar is dit al? Vir gelowiges is dit tog baie meer.
Vir ‘n gelowige is geluk om vrede te hê en met oorgawe te leef,
ten spyte van omstandighede.

Bekende karakters in die Bybel het ook met emosies
en omstandighede buite hul beheer geworstel.
Hulle het selfs onskuldig in die moeilikheid gekom,
juis in hul strewe om met oorgawe vir die Here te leef!
Dink maar aan Josef en Job.
Dawid se eie keuses het hom dikwels in die moeilikheid laat beland.
Hulle was almal gewone mense,
maar hulle lewens het so ‘n groot impak gehad,
omdat hulle met oorgawe vir die Here wóú leef.
Vandag nog leer ons uit hul lewens,
oor ons verhouding met God en met mekaar.

Die belangrikste wat ons moet onthou,
is nie altyd hoekom iets gebeur nie,
maar hóé ons daarop reageer.
Hoe ons op omstandighede en gebeure reageer,
is wat die verskil maak.
Dit het dan ook juis ‘n impak op ons gemoedstoestand.
Ons wil dikwels “perfek” leef,
maar perfek is nie sinoniem met geluk nie.

Die gelukkigste mense is die wat aanvaar dat
die lewe nie “perfek” vir ons verloop nie.
Die lewe kan nie volmaak wees nie.
Ons kan nie alles en almal beheer nie.
Die lewe gebeur!

Maar in die lewe is elke dag nuut,
‘n nuwe vars handvol genade van Bó!
God se ontferming oor ons!
Klaagliedere 3:23 sê dit so treffend:
“…dit is elke môre nuut. U trou is groot.”

Gaan jy in die lewe kla oor alles wat verkeerd loop?
Of gaan jy kies om te lewe,
en die beste van alles te maak?

Ernest