Job is ‘n sprekende voorbeeld daarvan.
Dat slegte goed ook met goeie mense gebeur.
Job was ‘n baie ryk man, en toe verloor hy alles.
Dit was nie sy skuld nie, en tog het dit gebeur.
Job moes leer: die lewe is nie regverdig nie.
Hy het nie verbitterd geraak nie.
Hy het nie sy rug op God gedraai nie.
Hy het nie ‘n ander geloof gaan soek nie.
Maar hy het wel geleer om onsekerheid te hanteer.
Om steeds te bly glo dat alles goed sal uitwerk.
Hy het geleer wat Paulus eeue later beklemtoon,
in Romeine 8:28:
“Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk
vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is.”
Daar is altyd ‘n groter prentjie en plan,
wat ons nie met ons menslike beperkings kan raaksien nie.
Job verstaan gladnie hoekom die slegte goed met hom gebeur nie.
Ons verstaan dit ook nie as dinge in ons lewe begin verkeerd loop nie.
Ons het dan baie onbeantwoorde “hoekom” vrae.
Maar hierdie hoekom?-vrae dryf ons net al hoe meer in die hoek in.
Ons moet in die storms eerder onvoorwaardelik vashou
aan ons geloof in God, en sý beloftes in sy Woord,
soos bogenoemde teks.
Bly soos Job geduldig en getrou, al worstel jy ook hoé.
Luister ook na gelowiges wat vir jou omgee en jou liefhet.
Omring jou met God se kinders,
wat soos jy in hierdie lewe nie alles verstaan nie,
maar vashou aan hul geloof in God se beloftes in sy Woord.
Job se vriende het dit goed bedoel, maar nie goeie raad gegee nie.
Bly betrokke by die geloofsgemeenskap,
wat saam met jou na God se wil soek, en dit saam met jou wil uitleef.
Ernest