Dit is moeilik om altyd te besef en te reageer met die wete
dat daar ook ‘n groter prentjie in jou lewe is. ‘n Groter plan.
Ons raak ongeduldig en gefrustreer, en humeurig,
wanneer dinge nie volgens óns plan verloop nie.
Die probleem is dat ons dan self groot foute begin maak,
omdat ons ons deur ons emosies laat lei.
Onbeheerde emosies kan jou groot foute laat maak.
En dan kan jou verkeerde keuses, as gevolg daarvan,
jou baie moeilikheid besorg.

Dit is wat met Moses gebeur.
Hy moes die Israeliete uit Egipte lei.
Dit is hoekom hy by die Farao in die paleis grootgeword het.
Ons ken die mooi verhaal hoe hy tot daar gekom het.
Alles deel van God se plan.
Maar skielik lyk dit asof die hele ding verkeerd loop,
wanneer ons terugkyk op die verhaal.
Moses kan nie sy woede beheer nie.
Hy pleeg moord en moet landuit vlug.
Maar God bly altyd in beheer van sý plan.
Hy keer die situasie om,
en Moses kan uiteindelik doen wat hy moes doen.

Moses het gesukkel om sy emosies te beteuel,
by name sy humeur, en hy moes ‘n hoë prys daarvoor betaal.
Hy slaan die rots wanneer God water wil voorsien,
en doen dit nie soos wat God gesê het hy moes doen nie.
Dit maak dat hy nie in die beloofde land kon ingaan nie.

Moses het ook probeer om almal tevrede te hou.
Hy kon dit nie regkry nie. Wie kan?
In plaas daarvan moes hy eerder na God luister en God se wil doen.
Maar uiteindelik bereik God sy plan met Moses, ten spyte van dit alles!
En van Moses word dan uiteindelik in Hebreers 11:27 gesê:
“Hy het volhard soos iemand wat die onsienlike God sien”!

Doen wat reg is, eerder as om alle mense tevrede te probeer hou.
So sal ons onsself baie pyn en frustrasie spaar.
So sal ons meer in beheer van ons emosies kan bly,
omdat ons op God se wil fokus.

Wanneer ons verkeerde keuses maak,
vertrou op God om jou terug te bring na die regte plan vir jou.
Moenie dat emosies wat jou verkeerde keuses laat maak,
die oorhand oor jou kry nie.
Volhard soos Moses,
soos iemand wat die onsienlike God sien!

Ernest