Gideon is ‘n man wat eerder die probleem sien, voor hy die oplossing sien.
Hy wil ook eerder op die probleem fokus, as om die oplossing aan te gryp.
Maar God gryp radikaal in, in Gideon se lewe,
en verander sy siening van “probleme”, na “uitdagings”.

Wanneer ons Gideon ontmoet, kruip hy weg vir die Midianiete.
Wanneer hy hoor hy moet die Israeliete gaan red!...
sien hy dadelik probleme.
Hy sê dadelik hy kan nie! Hy is arm. En van min aansien.
Hy is bang, en “kan nie”,
maar die Here noem hom “dapper man”!
Rigters 6:12 sê:
“Die Engel van die Here het aan hom verskyn en vir hom gesê:
“Die Here is by jou, dapper man.”

Maar selfs nadat Gideon besef het die Here praat met hom,
en wil hom gebruik, sien hy nog steeds net probleme.
Keer op keer bly hy God vra vir tekens.
Bly hy onseker of hy die “problem” sal kan hanteer.

Gideon se lewe het radikaal verander,
die oomblik toe hy nie meer op “probleme” gefokus het nie.
Toe hy nie meer op omstandighede,
en wat mense van hom sê, gefokus het nie.
Rigters 6:34 sê wanneer dit gebeur in jou lewe:
“Die Gees van die Here het vir Gideon in besit geneem….”
Hy sien nou die uitdagings wat God aan hom stel,
en hy word die dapper kryger wat God hom noem!
Dit laat die probleme verander in uitdagings!
En dit laat hom nou uitdagings aanvaar, in geloof!

Paulus sou ook oor hiérdie beginsel eeue later in Filippense 4:13 sê:
“Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee.”
Ons het ook die Gees van die Here in ons,
en van die Heilige Gees in ons sê 2 Tim. 1:7:
“Die Gees wat God ons gegee het, maak ons immers nie lafhartig nie,
maar vul ons met krag en liefde en selfbeheersing.”
Probleem, of uitdaging?
Vertrou, en doen wat jy vir die Here moet doen,
“dapper man”!

Ernest