Dit is so! Die lewe is nie regverdig nie.
Die lewe skuld ons ook niks nie.
Die lewe kan skewe klappe aan ons uitdeel.

Ons sien dit in Josef se lewe.
As kind is Josef ‘n dromer, en sy pa se witbroodjie.
Dit verander alles radikaal wanneer sy broers hom verkoop!
Hy beland uiteindelik onskuldig in die tronk. En hy sit lank.
Josef bly egter getrou aan sy waardes, ongeag sy omstandighede.
Hy gaan sit nie op ‘n hopie omdat die lewe onregverdig is nie.
Hy besef die lewe het sy dwarsklappe.
Hy kies die gesindheid waarmee hy wil bly lewe!
Hy kies nie om ‘n slagoffer van die lewe te word nie.
Hy raak nie bitter of opstandig nie.

Later kry hy die geleentheid om wraak te neem op sy broers.
Hy doen dit nie. Hy vergewe hulle. Bied vir hulle uitkoms!
Was dit maklik vir Josef? Verseker nie!
Hy was vir 13 jaar in moeilike omstandighede,
in ‘n vreemde land vasgevang.
Hy kon seker ook ‘n verslaafde, of selfmoordstatistiek word.
Hy word egter aangestel as onderkoning van Egipte!
Inderdaad sien ons hierin dat ons tyd nie God se tyd is nie.
Dit kan jare neem om God se plan te sien ontplooi.
God se eerste prioriteit hierin is nie ons gerief of ons agenda nie.
Ons is hier vir God. Nie vir onsself nie.
Hoe moeilik leer ons nie hieraan nie?
Hoe dikwels wil ons nie as gevolg hiervan uitskree
“die lewe is onregverdig” nie.

Wanneer Josef onskuldig in die tronk sit, sê Gen. 39:20-21:
“Terwyl Josef daar in die tronk was, was die Here by hom,
en Hy het Josef sy troue liefde laat ondervind…”
In die moeilikste omstandighede sal God jou nié los nie.

Wanneer Josef as bevelhebber aan sy broers bekend maak wie hy is,
is hulle baie bang, maar hy sê in Gen. 45:5:
“Maar julle moet nou nie sleg voel of bang wees,
omdat julle my verkoop het nie,
want God het my voor julle uit gestuur om lewens te red.”
Josef beleef vir jare die moeilikste omstandighede.
Maar as die farao se raadgewer en bevelhebber oor die hele Egipte,
het God Josef gebruik om sy volk voedsel te gee,
in die sewe jaar van hongersnood.
Josef word vooruit gestuur, jare vooruit, om lewens te red!

Hoe moeilik is dit nie vir ons nie? Dit is moeilik.
Maar hoe moet ons nie hieruit léér dat ons deel van Gód se plan is nie!
En nié dat God deel van óns plan is nie!
Ons kán kies:
Óf om slagoffers te word van die onregverdige lewe,
óf om volhardend só te lewe,
dat God uiteindelik sy Goddelike doel met ons kan bereik.

Ernest