Elia is bekend as die profeet met die sterk geloof.
Hy bid en daar kom droogte. Hy bid weer en dit reën.
Hy sien en beleef God se wonderwerke eerstehands.
Hoekom is dit tóg asof Elia altyd verwag dat die ergste gaan gebeur?
Is dit omdat hy in beheer wil wees?
Dikwels glo en vertrou ons, soos Elia, maar ons wil tóg meer beheer hê…
En so bekommer ons onsself onnodig en vermors baie energie.
Want die Here is in beheer. Ons sê dit, maar leef dit nie.
Ons verkwis tyd en energie op bekommernis.

Die Here gebruik Elia om die Baäl profete te verslaan.
En wat doen Elia?
Hy hoor Isebel wil hom doodmaak en hy vlug die woestyn in.
Dieselfde man wat die Baäl profete aangevat het…
Hy gaan lê op ‘n hoop in selfbejammering.
Elia fokus op die omstandighede en ervaar dat hý beheer verloor.
Hy het na die nuus geluister en gehoor daar is moeilikheid.
Hy vlug omdat hy bang is hy word vermoor.
En dan, ironies genoeg, wens hy dat hy doodgaan!

Ons hoor genoeg slegte nuus.
Nuus wat moeilikheid uitbassuin.
Dit help nie ons wil vlug omdat dit voel of ons beheer verloor nie.
Elkeen van ons is hier met ‘n Godgegewe doel.
Dit is die sin van jou lewe.
Dat God jou hiér wil hê vir Hom.
Ons moet ophou toelaat dat ons omstandighede ons “lot bepaal”.
Ons moet weier om slagoffers van ons omstandighede te word.
Ons moenie dink ons verloor beheer nie,
maar daaraan vashou dat God in beheer is.
Ons moenie moedeloos raak en soos Elia onder ‘n bos gaan sit nie.

God gee hom kos deur ‘n engel, 1 Kon. 19:7, en sê hy moet eet,
“…anders sal die pad vir jou te lank word”.
Hy weet Elia gaan nóg hardloop!
Hoe lank wil jý aanhou hardloop?
Elia gaan tot by Horeb en gaan in ‘n grot in.
Toe kom vra die Here vir hom:
“Wat maak jy hier, Elia?” 1 Kon. 19:9.
Sit jy ook by wyse van spreke in ‘n grot?
In vers 15 sê die Here vir hom:
“Draai in jou spore om…”
En Elia gaan terug en doen gróót werk vir die Here!

Gaan terug na wat God in, deur en met jou wil doen!
Moenie moedeloos word nie. Draai in jou spore om!
God wil groot dinge doen, in en met jou lewe!

Ernest