Paulus sit in die tronk in haglike omstandighede.
Kan dit met ‘n mens goed gaan in sulke omstandighede?
Kan daar ‘n doel of sin daarin wees?
Paulus gaan sit nie in ‘n bondeltjie nie.
Paulus skryf hierdie treffende woorde daaroor in Fil. 1:12:
“My liewe vriende, ek wil julle graag iets vertel.
Al die dinge wat so met my gebeur, lyk of dit sleg is,
maar eintlik is dit goed. Hoekom is dit goed?
Dit help die verkondiging van die evangelie aan.”
Paulus weet die medegelowiges worstel met die vraag,
hoekom hy in die tronk sit? Hy sit daar oor sy geloof in Christus,
en oor hy die evangelie verkondig! Hoekom laat die Here dit toe?
Daarom bring Paulus met hierdie woorde vir hulle perspektief.
Al lyk dit sleg, einlik is dit goed. God skep geleentheid, in sy verleentheid!
Paulus kies om nie ‘n slagoffer van sy omstandighede te word nie,
maar Goddelike perspektief daarin te kry. En dán sit hy nie stil nie.
Hy gaan met meer momentum vir wat hy glo!
Hy sê verder in vers 13:
“Nie net al die wagte in die paleis nie, maar ook al die ander mense,
sien duidelik dat ek hier in die tronk is net omdat ek ‘n Christen is.”
Paulus se dade bevestig sy geloof.
Hy deins nie terug en gaan kruip weg, of bly stil nie.
Hy is bereid om alles op te offer vir sy geloof.
Vers 14 bring nóg perspektief:
“Dit het bowendien ‘n goeie invloed op die meeste ander mense,
wat óók die Here dien. Hulle sien dat daar selfs iets goeds van kan kom,
om in die tronk te sit. Dit laat hulle moed skep.”
Dit is geloofsversterkend vir die ander gelowiges om dit te sien…
dat God selfs die haglikste omstandighede in jou lewe wil gebruik,
om sy doel te bereik in jou lewe, en die lewe van baie ander mense.
Dit laat ook húlle wat ly vir hulle geloof “moed skep”!
En kyk net wat sê vers 14 verder:
“Hulle is nie meer bang om oor Jesus te praat nie!
Waar hulle vroeër maar stilgebly het omdat hulle bang was,
begin hulle nou al hoe meer oor Jesus praat!”
Moenie terugdeins vir jou omstandighede nie.
Moet dit ook nie doen omdat jy bang is nie,
dat jy moontlik in moeilike omstandighede kán beland nie.
Bly, soos Paulus, in álle omstandighede ‘n Jesus volgeling.
Hy is nie net in daardie omstandighede bý jou nie,
maar doen dáár sy wonderwerke, en mense sien dit, skep moed,
is nie meer bang nie, en verkondig soos jý die Here Jesus Christus!
Kry in jou mkoeilikste omstandighede die perspektief wat God wil gee.
Dit ís daar. Soek dit en gaan voluit daarvoor.
Dit is jou keuse….
Ernest