Ons kan regtig in moeilike omstandighede sekere dinge wéét,
en daaraan vashou, en daaruit blý lééf!
Paulus sit in die tronk, onder haglike omstandighede.
Dit is vuil, donker, warm, bedompig, onhigiënies.
Dit alles sal ons seker nog kan hanteer…
Maar hy is onskuldig, en sit daar ter wille van sy geloof in Christus Jesus.
Dit kan ons op ‘n bondel laat trek, en in ‘n hoek laat sit, en allerhande vrae laat vra.
Of ons kan vashou aan dinge wat ons verseker kan wéét, en opstaan,
en voortbeur, en voortleef, in God se krag!

Wat kan ons in moeilike omstandighede, onder andere, wéét?
Kyk wat skryf Paulus in Fil. 1:19:
“Ek wéét dat julle vir my bid,
en dat die Gees van Jesus Christus vir my gee wat ek nodig het!
Daarom het ek geen twyfel dat alles uiteindelik vir my goed sal afloop nie.”

Paulus wéét:
Medegelowiges bid vir hom. Regtig!
Die Gees van Jesus Christus gee vir hom alles wat hy nodig het.
Alles sal uiteindelik vir hom goed uitwerk.

Maar hy wéét volgens vers 20 nóg méér….
“Ek is seker dat ek nie skaam sal wees oor wat ek gedoen het nie.
Ek maak Christus mos groot deur wat ek inderdaad doen,
en ek doen niks skelms nie.
Wat ek in die verlede gedoen het, bly ek steeds doen,
maak nie saak of ek daarvoor moet sterf en of ek moet bly lewe nie.”
Paulus wéét:
Hy sal nie skaam wees oor wat hy vir die Here doen nie.
Hy het nie ‘n “skelm” verskuilde agende wat selfgerig is nie.
Hy sal vrymoedig voor die Here kan bly staan, ongeag omstandighede.
Hoekom? Omdat hy wéét hy maak Christus groot deur wat hy getuig en doen.
Ongeag sy omstandighede bly hy by wat hy glo en in die verlede gedoen het!
Maak nie saak of hy daarvoor moet sterf, of daarvoor moet bly lewe nie!

En dán, in hierdie haglikste omstandighede,
maak Paulus hierdie kragtige “betekenis van die lewe”-stelling in vers 21:
“Om te lewe, is vir my Christus, en om te sterwe, is vir my wins.”
Kan jy daaraan vashou in jou heel moeilikste omstandighede?
Dit is die diepste betekenis van die lewe.

Charles Mayes het gesê:
“Make sure the thing you’re living for, is worth dying for.”
Paulus kom wys vir ons dat selfs onder die heel moeilikste omstandighede,
daar sin is in die lewe.
“Om te lewe, is vir my Christus. Om te sterwe, is vir my wins.”

Wéét wat God vir jou in sy Woord sê jy kán wéét!
En blý lééf daaruit. Ongeag!

Ernest